21 dae gelede
'Klipgooi-bende' maak inwoners se lewe hel
KLIP-TERRORISTE: Hierdie groep seuns voer ’n skrikbewind onder inwoners.  ~ Foto Verskaf

SKAARS ’n week nadat ’n groot klip wat deur die badkamervenster gegooi is sy kleinkind amper getref het, het nóg een sy vrou se kop net so byna gemis.

Henry Muller (74) van Algoapark vertel sy 73-jarige vrou was in die kombuis besig.

Die oom sê dis ’n groep snotkop-tieners wat hulle so terroriseer deur hul huis en ander in die straat met klippe te bestook.

Die familie se stukkende badkamer- en kombuisruite is die stil getuienis hiervan.

Die Mullers weet nou al wanneer hulle verby enige vensters loop, moet hulle uiters versigtig wees omdat die klippe enige tyd kan rondvlieg.

Maskers

Muller het verskeie kere foto’s van die klein stoutgatte geneem.

Hy sê vies: “Hier’s ’n klomp van hulle, omtrent so ses tot 10 van hulle wat elke dag hier agter in die vlak loop – en nog sonder maskers op!”

Twee uit die drie voorvalle by sy huis, net dié maand alleen, kon vreeslik erger as net stukkende ruite gewees het, vertel Muller.

“Op 9 Julie, sowat halfdrie die middag, toe gooi hulle my badkamerruit stukkend. Die klip en die glasstukke het in die bad geval, maar gelukkig was dit net toe die kleinkind klaar uit die bad geklim het.

“Toe ons oor die muur kyk, toe hardloop hulle weg en gaan staan so ’n afstand van die huis se muur af.”

Die laities het die oom toe lelik geskel.

“Hulle het geskreeu: ‘Julle ma se p**st*, julle is ’n klomp n***rs! Ons gaan al julle n***rs kom vrek maak!’ ”

Dit het nie daar geëindig nie.

“Op 15 Julie, toe breek daar nog ’n ruit. Dié keer die kombuis s’n. Gelukkig het my vrou net tóé wegbeweeg van die sink af, anders kon daai klip haar voor die kop getref het,” sê die oom.

“Verlede week, 16 Julie om 12:45 pm, toe kom daar wéér ’n klomp verby. Toe ek op hulle skreeu, toe gooi hulle na my en my seun.”

Muller beweer die polisie doen niks om hulle te help nie.

“Ons het al na ’n paar ouens toe gegaan in die gemeenskap om te kyk of ons die laities self kan vang en hulle dan aan die polisie oorhandig,” sê hy moedeloos. “Want ons kry dan nie ’n response van die polisie nie.”

Die oom voeg by: “Verlede jaar het die Algoapark-polisie hier agter by Silver Oakstraat en Whyteleaf-rylaan op en af gery omdat dit so erg was met inbrake en klipgooiery.

“Maar hierdie jaar het ons nog nie een van gesien nie.

“Ons raak nou rêrig keelvol, want die kinders wat ons huise so bestook met klippe kos my duisende rande. Iets móét gedoen word.”

Nóg ’n inwoner, Elna Burger, sê vies: “Ons mense in Silver Oak is rêrig gatvol!

“Hulle het in vyf dae se tyd twee keer uit ons jaart gesteel ook!

“Ek wens ons kan die bliksems vang, want hulle sal daarna nie weer kan loop en steel en stront aanvang nie. Dit belowe ek! Die polisie is useless!”

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n woordvoerder van die polisie, sê indien enige iemand se eiendom beskadig is, kan hulle ’n saak by die polisie aanhangig maak.

“Indien die polisiebeamptes nie reageer nie, kan dit deur die bestuur van die stasie opgeneem word.

“Die klaer of klaers kan dan die stasiebevelvoerder kontak en ’n amptelike klag indien.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters