4 dae gelede
Kleinboetie in pad vermoor
Verlang: Matilda Lloyd sê gaan haar seun verskriklik mis.Foto:Deon Ferreira  ~ 

’N MAN van Tamboville, Uitenhage, is dié naweek dood en sy vriend is in dieselfde skietvoorval gewond.

Jerrel Lloyd (22) is Saterdagaand dood.

Volgens sers. Majola Nko­hli, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 23:30 in Seagullstraat plaasgevind.

Die polisie het gereageer op inligting van ’n moord.

“Op die toneel het die polisie ’n man met verskeie koeëlwonde in die bolyf gevind. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Verdere ondersoek het die polisie gelei na ’n tweede slagoffer. Hy is na die hospitaal gehaas met koeëlwonde in die bolyf.

Jerrel se ma, Matilda Lloyd (63), sê sy het TV gekyk toe sy die skote hoor.

Iemand wat hulle ken het haar en haar man, Johannes (53), geroep om te sê hulle kind is geskiet.

Matilda sê sy wou nie na die toneel toe gaan nie.

Johannes het gegaan. Hy vertel: “Toe ek daar aankom, sien ek hoe lê my seun en sy tjommie in die pad op hulle rûe. Die paramedics het Jerrel dood verklaar.

Afgesper

“Ek het maar net gestaan en kyk. Hulle wou ons nie daar naby toelaat nie en alles was afgesper.

“Hy was die baby-seun van vier seuns.”

Jerrel het onlangs ’n weld­ing-kursus voltooi en het al begin werk soek.

Hy was ook ’n lid van ’n rugbyklub in Uitenhage.

Matilda sê haar seun was lief vir musiek en was ’n stil outjie wat baie gesmile het.

“Ek gaan mis om vir hom in die oggende te sê om op te staan. Ek gaan mis dat hy vir ’n R2 vra om ’n entjie te gaan koop. Ek was lief vir die laitie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters