20 dae gelede
Klein vegter bring vreugde
TONNE LIEFDE: Klein Tiante is ondanks haar rare siekte loutere vreugde vir haar oupa Roland en ouma Marlene.  ~ BRYAN GOLIATH

DIS ’n seldsame siekte waaraan net een uit elke 10 000 kinders wêreldwyd ly.

Tiante Scott (6) van die Northerns ly aan die seld­same Rett-sindroom.

Rett-sindroom is ’n genetiese, neurologiese siekte wat byna eksklusief onder meisietjies voorkom.

Versorg

Dit tas byna alle aspekte van die lyer se lewe aan – hul vermoë of te praat, loop, eet en selfs om gemaklik asem te haal.

Tiante se ouma Marlene Scott sê ten spyte van die uitdagings om ’n kind met Rett-sindroom te versorg, is dit ’n absolute vreugde om haar in die huis te hê.

Klein Tiante ly aan slapeloosheid, kan nie loop of kruip nie en kan nie eens haar gunsteling-speelgoed vashou nie.

“Sy skree sonder rede en kan nie stilgemaak word nie en sy wring gedurig haar handjies,” verduidelik Marlene.

Tiante gaan sedert haar twee jaar twee keer per jaar na die Rooi Kruis-kinderhospitaal vir behandeling vir haar spraak, oë, brein en rug.

“Sy moet elke aand pille kry en het ’n hele sak vol tablette. Een jaar toe ons Kaap toe gevlieg het vir haar behandeling, het sy regdeur die hele vlug gehuil,” onthou Marlene.

Tiante se oupa Roland sê hy kan nie die lewe sonder haar voorstel nie.

Hy glimlag van oor tot oor wanneer hy na sy geliefde kleinkind kyk.

Afspraak

“Hierdie kind is baie spesiaal. Ek is so lief vir haar en sal alles vir haar doen.”

Tiante se mammie, Kim, sê sy self kry maar snags min slaap.

“Tiante moes juis weer dié maand Kaap toe gaan vir behandeling, maar weens Covid-19 kan ons nou nie daardie afspraak nakom nie.

“Sy is ’n engel en die ligpunt in ons lewens,” sê die dapper mammie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters