11 dae gelede
Klein Hakeem kry sy Justice
Justice: Chenese Baartman is bly die polisie het haar kind (2) se vermeende moordenaar gevang.  ~ 

DIE provinsiale bendetaakspan het ’n vermeende bendelid toegekap vir die skietdood van Hakeem Baartman (2).

Die span het Maandag, ná ses maande van intensiewe speurwerk, ’n deurbraak gemaak toe hulle ’n vermeende lid van die Upstand Dogs in hegtenis geneem het.

Die 22-jarige verdagte verskyn vandag in die Baaise landdroshof op aanklag van moord en poging tot moord.

Die weerlose Hakeem is op 18 November raak geskiet terwyl hy besig was om voor sy pa se huis in Hartebeesstraat in Helenvale te speel.

Hy is later in die Living­stone-hospitaal dood.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisie­woordvoerder, sê: “Op Maandag 14 Mei het die provinsiale bendeondersoekeenheid ’n 22-jarige verdagte by ’n tavern in Voisinweg gearresteer.

“Die polisie het omstreeks 10:30 inligting gekry en dit onmiddellik opgevolg. ’n Lid van die Upstand Dogs-bende is toe gearresteer.”

Daar word beweer ’n 17-jarige seun het omstreeks 14:45 op die dag van Hakeem se dood op die trappe voor ’n huis in Hartebeesstraat gesit.

“Die verdagte het hom vanuit die rigting van ’n oop veld genader en op hom losgebrand,” sê Naidu.

“Die slagoffer het in die straat af gehardloop en die verdagte het aangehou om op hom te skiet.

“Hakeem Baartman, wat in die straat gespeel het, is in die kop getref. Die skietery op die tiener is bendeverwant.

“Die tiener is ook in die nek getref.”

Chenese Baartman, Hakeem se mamma, is bly haar onskuldige seun kry justice.

Baartman sê aan Son die speurder het haar Maandagoggend oor die arrestasie kom inlig.

“Ek voel baie tevrede dat die verdagte in hegtenis geneem is.

“Die speurder het gesê hulle is besig met twee getuies en as dit positief is, kan hy gestraf word.

“Wanneer dié hofsaak klaar is, wil ek hê hy moet vir ewig in aanhouding wees. Dis hartseer wat ek moet deurmaak.”

Sy sê sy dink nog baie aan Hakeem omdat hy die een is wat haar altyd gelukkig gemaak het, veral wanneer hy so spelerig was en haar laat lag het.

Brig. Andrew Louw, bevelvoerder van die Mountweg-polisiegroep, het die lede van die gemeenskap bedank vir hul hulp om dié glibberige verdagte vas te trek.

Noodsaaklik

“Die gemeenskap is die oë en ore van die polisie en ons benodig die bystand van gemeenskapslede om te verseker dat dié koue misdadigers gearresteer en uit die gemeenskap verwyder word,” sê Louw.

“Aktiewe gemeenskapsdeelname is noodsaaklik in ons geveg teen misdaad.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters