Verlede maand
Kind se dood ruk gesin
Laaste rusplek: Esmerelda Engelbrecht en haar dogter, Ashline, by klein Roslyne se graf. Foto’s: deon ferreira  ~ 

’N BAAISE ma is op die randjie van ’n senuwee-ineenstorting nadat sy reeds vier kinders by verskillende geleent­hede aan die dood afgestaan het.

Toe Esmerelda Engelbrecht (43) van Jacksonville in Maart haar vierde kind – die vyf maande oue Ros­lyne – aan die dood afstaan, het sy geknak.

Die gebroke ma het sielkundige hulp by die Chetty-kliniek gaan soek.

Die pa van haar ag kinders, Paul Smith (47), was ná die onverwagte sterftes ook al vier keer in die Elizabeth Donkin Psigiatriese Hospitaal.

Een van haar seuns is ’n paar jaar terug doodgebore. Haar ander kind, Elizabeth, het in 2009 in hulle huis verkluim toe sy maar net 18 dae oud was. Die drie maande oue Ashwill het ’n ruk later in sy slaap gesterf.

Engelbrecht – ’n ma van nog vier kinders – sê verlede jaar op 29 Oktober het sy geblom toe Roslyne gebore is. Volgens haar het die bevalling goed afgeloop.

Sy sê in Maart het sy Roslyne na die Dora Nginza-hospitaal geneem omdat “haar gesig nie lekker gelyk het nie”.

Volgens Engelbrecht is Roslyne daar vir gastro behandel. Sy sê nadat Roslyne ’n lumbar puncture gekry het, het sy net swakker geword.

Volgens Engelbrecht het een van die nurses die kind in ’n incubator geplaas toe haar lyf koud begin voel het.

Maar Engelbrecht beweer die nurse het die incubator heeltemal te hoog gestel.

Die mammie sê haar kind het ná twee ure in die incubator begin skop.

Toe sy die nurses gaan roep, was hulle na bewering vas aan die slaap. Volgens haar was die baba se liggaam pap toe hulle haar eindelik uit die incubator haal.

Sy sê die nurse het Roslyne toe op die bed neergelê.

Die ma sê huilend toe sy Roslyne se doeke wou omruil, het haar vel van haar lyf afgedop. Sy vertel die personeel het die baba onmiddellik op suurstof gesit.

“Ek kon sien my kind gaan sterf.”

Oorsaak

Sy sê toe die nurses die dokter ontbied om bloed te trek, het die dokter glo aan die nurses gesê hulle is in groot moeilikheid.

Roslyne is ’n halfuur later oorlede. Sy sê die dokter het haar nie meegedeel wat die oorsaak van haar dood is nie.

Op die doodsertifikaat staan sy is aan natuurlike oorsake dood.

Die hartseer ma sê sy val glad nie daarvoor nie.

Engelbrecht sê toe sy later na Roslyne se lykie gaan kyk, was haar liggaam toegedraai in wit verband. Net haar mond het uitgesteek.

“Ek lus nie meer in dié huis bly nie. Ek gaan elke dag na haar graf toe.

“Ek kan net nie vrede maak met haar dood nie.”

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement, het teen gistermiddag laat nog nie op Son se navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
10 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters