4 dae gelede
Killer skuldig bevind, kry 15 jaar tronkstraf
Riyaad SalegieFoto: theo jeptha  ~ 

VIR die volgende 15 jaar gaan Riyaad Salegie (27) in die tjoekie sit.

Dít is nadat hy skuldig bevind is op klagte van moord, aanranding, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die doel om te roof.

Die skuldigbevinding kom nadat hy op 18 Januarie 2016 by die huis van Bhaven Moodley (37) en sy 66-jarige ma in Crammerstraat in Malabar ingebreek het.

Moodley se swart AMG Mercedes-Benz is in die voorval gesteel.

Op dieselfde dag het die polisie gesoek na ’n swart Mercedes wat in KwaDwesi gehijack is. Die polisie het toe ’n swart Mercedes in Humewood opgespoor, maar by nader ondersoek was dit nie die kar wat in KwaDwesi gesteel is nie, maar dié van Moodley.

Toe die polisie by Moodley se huis aankom, het hulle op sy liggaam afgekom.

Gearresteer

Sy ma was aangerand en erg deurmekaar.

Salegie is toe gearresteer en het in aanhouding gebly tot hy Vrydag in die Baaise hooggeregshof gevonnis is.

Sy vonnisse is soos volg: drie jaar vir huisbraak met die doel om te roof, sewe jaar vir elk van die twee klagte van roof met verswarende omstandighede, 15 jaar vir moord en drie jaar vir aanranding.

Al sy vonnisse sal gelyk­lopend uitgedien word, wat beteken dat hy effektief 15 jaar sal uitdien.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters