Verlede maand
Kids ruk op teen geweld
massas: Standfordweg is vol skoolkinders wat teen die voortslepende geweld betoog.Foto’s: deon ferreira  ~ 

SELFS die jeug het nou genoeg gehad van al die kindermoorde en geweld.

Vrydag het talle leerders van die Baaise noordelike gebiede vreedsaam na die Gelvandale-stadion gemarch.

Met plakkate wat smeek vir vrede en dat die killings onder hulle moet end kry, het hulle al singend die langpad aangedurf.

“Ons is hier, want hulle moet ophou om ons dood te maak,” sê ’n 12-jarige meisie aan Son.

Dit kom veral in die lig van kindersterftes in die Northerns, soos dié van klein Recolin Witbooi (8), wie se lyk onlangs op ’n vlak in Malabar gevind is. Die doodsoorsaak moet nog bepaal word.

Beskerming

’n Ander seun, Luciano Hendricks (14), is in Mei vanjaar in Bellweg in Gelvandale doodgeskiet.

Dit is net twee voorbeelde van talle kinders wat slagoffers van geweld is.

Anita Bell, die organiseerder van die march, sê: “Die idee agter alles is om die naam van die Here uit te roep oor ons kinders en oor ons land en te vra vir God se beskerming.

“Die Bybel sê in Psalm 127: ‘As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs bou die bouers. As God die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagters,’ ” verduidelik Bell.

Sy voeg by dié tipe gebeure traumatiseer almal en sê kinders voel onvry en vrees vir hulle lewe.

Die primêre skole Hillcrest, Bayview, Helenvale en Fontein, asook die Sekondêre Skool Gelvandale, het deelgeneem aan die march en leerders het hulle plakkate langs Standfordweg omhoog gehou vir motoriste om te sien.

Soos die groepe by die straat af beweeg het, het al hoe meer mense bygekom.

Selfs bejaardes en mense in rolstoele het deelgeneem aan die optog.

By die stadion was daar verskeie gassprekers en plaaslike entertainers wat hulle ondersteuning getoon het.

Spesiale gedigte is opgedra aan Recolin en ’n tribute vir al die kinders wat hulle lewens verloor het weens geweld.

Clarissa Abrahams van die onderwysdepartement het ook haar ondersteuning kom wys. Sy werk met leerders in die grondslag­fase in die Nelson Mandelabaai-distrik.

“Dit was ’n baie goeie inisiatief. Dis vir my ’n riem onder die hart om te sien hoe oumense, onderwysers en kinders op ’n vreedsame manier deelneem.”

Abrahams sê die geweld traumatiseer nie net die leerders nie, maar ook die onderwysers.

Sy verduidelik dat wan­neer­ iets byvoorbeeld die vorige aand gebeur, deal die kind steeds die volgende dag by die skool daarmee.

“Elke trauma waardeur die kind gaan, speel ’n rol in sy vermoë om by die skool te leer. Elkeen hanteer dit ook verskillend.

“Dit is definitief belangrik vir hulle om berading te kry,” meen Abrahams.

Volgens haar bring events soos dié ’n bietjie troos aan die gemeenskap omdat hulle dan weet hulle is nie alleen in die stryd nie.

Die verrigtinge het goed afgeloop, maar daardie selfde aand is nóg ’n kind van Helenvale oorlede weens bendegeweld.

Jay-lin Jantjies (6), wat in September in die kop getref is deur ’n dwaalkoeël, het Vrydagaand in die hospitaal gesterf.

Bell sê die oplossing is om ’n social worker aan elke skool toe te ken sodat ouers en kinders kan leer om met hulle probleme te deal.

“Elke instansie moet sy rol speel. Daar is genoeg NPO’s wat kan help.

Bereid

“Bemagtig die NPO’s met hulpmiddele en geld. Die beste oplossing lê by die erkenning van die probleem van geweld en bendegeweld.

“Die government moet dit erken. Die gemeenskap is bereid om saam te werk,” voeg Bell by. 

verandering: Die polisie begelei die leerders na die Gelvandale-stadion.
hou op: Kinders van verskeie skole marsjeer Vrydag teen geweld en moorde.
massas: Standfordweg is vol skoolkinders wat teen die voortslepende geweld betoog.Foto’s: deon ferreira
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters