21 dae gelede
Kids kry nuwe tuiste ná brand
BOUWERK: Raadslid Eddie Harker (middel) sit hand by met die oprig van Jade-hulle se nuwe blyplek.  ~ 

SY IS maar net in gr. 11, maar moes sedert Oktober verlede jaar – toe hul ma oorlede is – die huishouding oorneem en op haar eie vir haar driejarige dogter en 14-jarige broer sorg.

Op 3 Julie het nog ’n tragedie die 19-jarige Jade Adams, haar broer, Alzhane, en dogter, Liyanda, getref toe hul shack weens ’n elektriese fout tot op die grond afgebrand het.

Die kinders het sedertdien by ’n neighbour gewoon.

Jade is tans verbonde aan Booysenpark Senior Sekondêr en Alzhane is ’n gr. 7-leerder by KwaNoxolo Primêr.

Kort nadat die brand in Julie uitgebreek het, het wyksraadslid Eddie Harker met die hulp van nog ander skouer aan die wiel gesit en alles in sy vermoë gedoen om vir Jade-hulle ’n nuwe shack te bou.

Vrydag, op die vooraand van Mandeladag, het Jade, Alzhane en Liyanda by hul nuwe shack ingetrek.

Jade sê aan Son die brand het destyds omstreeks 13:00 uitgebreek.

Volgens haar was daar ten tyde van die brand niemand in die huis nie.

Volgens haar het hulle alles in die brand verloor – selfs haar ma se doodsertifikaat en hul geboortesertifikate. Volgens haar kon hulle niks uit die brandende shack red nie.

Volgens Jade voel dit goed om weer hul eie plek te hê en hulle is baie gemaklik daar.

Sy sê benewens die nuwe shack het Harker hulle ook voorsien van kospakkies, klere, rusbanke, ’n stoof en tafel.

Dankbaar

Al wat hulle nou nog kort, sê Jade, is twee beddens omdat hulle nog op matrasse moet slaap wat rampbestuur kort ná die brand aan hulle geskenk het.

Jade sê baie dankie aan Harker vir wat hy vir hulle gedoen het. Sy moedig hom aan om voort te gaan met die goeie werk waarmee hy besig is.

TOT NIET: Dit is al wat oorgebly het nadat Jade-hulle se shack op 3 Julie vanjaar afgebrand het.

Volgens haar wil sy eendag ’n lawyer of maatskaplike werker word of dalk die toerismebedryf betree.

Harker sê aan Son hy het besluit om as deel van sy 67 minute van Mandeladag ’n nuwe tuiste met klere, kos en furniture aan Jade en haar relatives te oorhandig.

Dié raadslid sê sy boodskap aan Jade is om eendag wanneer sy ’n sukses van haar lewe gemaak het, te onthou wat met haar gebeur het in haar tyd van nood en in die gemeenskap terug te ploeg.

HULP: Jade Adams-hulle se nuwe tuiste. In die swartsakke in die voorgrond is die items wat aan hulle geskenk is. Foto Verskaf

Harker sê hy wil dankie sê aan Werner Senekal, past. Lenny Moodley van Malabar, ander raadslede en sy personeel vir hul bydraes.

Hy sê ook dankie aan die jongspan van die omgewing wat gehelp het met die bouwerk en om die plek mooi te maak.

Harker wil Jade-hulle nou ook help met die geboortesertifikate en ander dokumente wat uitgebrand het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters