13 dae gelede
Kerkman en aktivis se moordsaak sloer nog
Norman Plaatjies Foto: son  ~ 

DIE polisie sê hulle ondersoek nog die moord op die Baaise kerkman en aktivis Norman Plaatjies (58).

Plaatjies is in Julie 2017 in sy huis in Timothy Valley doodgeskiet.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het by navraag gesê: “Daar word beweer dat Plaatjies op 24 Julie 2017 omstreeks 23:30 ’n geklop aan die deur gehoor het.

“Toe Plaatjies gaan kyk het wat dit was, is die deur oopgeskop.

“ ’n Onbekende persoon het binnegekom en hom verskeie kere geskiet.”

Naidu het bygevoeg die saak word ondersoek. Ook is geen arrestasies nog gemaak nie.

Jacqueline Plaatjies, Norman se vrou, het vroeër aan Son verduidelik hoe ongelukkig sy is omdat daar nog geen vordering in die saak is nie.

Sy wonder hoekom die moordenaars van gangsters so vinnig gevang word, maar nie haar man se killer nie.

Berading

Norman en Jacqueline het nege jaar lank ’n safe house bestuur by hulle huis in Lingelihlestraat.

Hulle het berading verskaf aan veral mishandelde inwoners.

Norman was ’n DA-aktivis en ’n lid van die sektorpolisie in Timothy Valley. Hy was ook ’n apostel by die Evangeliekerk in dié area.

Saterdag het raadslid Eddie Harker van wyk 38 besoek afgelê by die gesin om te hoor hoe dit gaan. Hy het genoem dat ’n mens nie so kan leef soos Norman se gesin nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters