14 dae gelede
Kerk trip amper dodelik
GEWOND: ’n Dwaalkoeël het die kind in Kobusweg, Helenvale, getref.Foto: GOOGLE MAPS  ~ 

NOG ’n onskuldige kind (4) is in die Baaise noordelike gebiede raak geskiet.

Sy en haar ma was Sondagoggend op pad huis toe van die kerk af toe ’n dwaalkoeël deur die meisie se lyfie geruk het.

Dit was ’n shootout tussen twee rival gangs.

Rug

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die polisie ’n 72 uur lange aktiveringsplan in werking gestel om die skieters vas te trek.

“Daar word beweer dat ’n vierjarige kind in die straat was toe skote in Kobusweg afgevuur is. Daar word ook beweer lede van die NTB-bende en ’n onbekende ander bende het op mekaar geskiet toe ’n dwaalkoeël die kind in haar rug getref het.”

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord.

Die ma van die gewonde kind sê hulle het huis toe geloop toe verskeie skote afgegaan het.

“Soos hulle aanhou skiet het, het ek my kind gegryp. Ons moes koes vir die koeëls.

“Sy het toe gesê ‘eina!’ en dís toe ek die gat in haar bekken sien en die bloed wat voor by haar hemp loop. Die koeël het regdeur gegaan.

“Ek het by die naaste huis ingehardloop en haar op die bed neergelê. Sy het heeltyd gesê: ‘Mamma, ek wil slaap.’ Haar oë het toegegaan.

“Ek het vir haar gesê sy kan nie nou slaap nie. Sy het ook deur haar mond gebloei. Ek het gedink ek het my kind verloor.”

Die kind se antie sê sy gehoor hoe vier of vyf skote afgaan.

“Ek het toe uitgegaan en gesien dit was crowded met al die mense. My suster en haar kind het by ’n ander huis ingehardloop,” sê die antie.

“Ek het die ambulans gebel en hulle was vinnig hier.”

Die polisie was ook vinnig op die toneel.

Hulle het ook met die meisie gepraat sodat sy nie haar bewussyn verloor nie.

Die man by wie se huis hulle was, het plastiek op haar wond gesit om die bloeding te keer.

Die kind is na die waaksaal van die Dora Nginza Hospitaal geneem.

Sy is gister in ’n stabiele toestand verplaas na die Provinsiale Hospitaal.

Die ma sê sy is nou selfs bang om winkel toe te stap.

Sy glo sy gaan haar kinders nooit weer laat buite speel nie, want die skietery in Kobusweg raak nou net te erg.

Die polisie het inwoners verseker ’n span toegewyde beamptes is aangestel om die verdagtes te hunt.

  • Enige iemand met inligting­ word gevra om asseblief AO Clive Phillips by 082 387 6765 of hulle naaste polisiestasie te bel. Alle inligting is vertroulik.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters