2 maande gelede
Jonges stroom in met hul CV’s
HOOFMANNE: Die Khoisan-leiers Christian Martin, Crawford Fraser en Charles Henning het Dinsdag namens werklose jongmense in die Northerns aanvoorwerk vir werk by Sassa gedoen. Foto’s: theo jeptha  ~ 
DANKIE: Karen Muller bid Dinsdag uit dankbaarheid nadat werklose jongmense hul CV’s by Sassa ingegee het.
HOOPVOLLES: Shahid Calvert en Reece Scheepers, albei van Windvogel, bring ook hul CV’s na Sassa.
HOOFMANNE: Die Khoisan-leiers Christian Martin, Crawford Fraser en Charles Henning het Dinsdag namens werklose jongmense in die Northerns aanvoorwerk vir werk by Sassa gedoen. Foto’s: theo jeptha

JOBS ná ’n dreigement.

Vier werklose jong mense van die Baaise Northens begin binnekort by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekuriteit (Sassa) se Cleary Park-dienskantoor werk.

Dít nadat Christian Martin, ANC-LPW, gedreig het dat hy in die dienskantoor sal slaap om die kwessie van die aanstelling van jong mense van Khoisan-/bruin herkoms aan te pak.

Martin sê hy was omgekrap toe hy uitvind die 18 nuwe aanstellings by die 6 dienssentrums van Sassa in die Metro sluit nie een van Khoi-herkoms of mense wat hulself as bruin beskou, in nie.

“Ek het die Sassa-kantoor daaroor gekonfronteer en hulle gedreig dat ek van Dinsdagaand af in die dienssentrum sal slaap totdat die kwessie opgelos is.”

’n WhatsApp-boodskap wat van vroeg Dinsdagoggend af die ronde gedoen het dat werklose jong mense van Khoisan-herkoms of diegene wat hulself as bruin beskou, 16:00 met hul CV’s na die Cleary Park-dienskantoor moet gaan, het daartoe gelei dat sowat 250 jong mense daar opgedaag het.

“Ek is baie bly dat die Sassa-amptenare, asook (amptenare van) die LUR se kantoor, uit Oos-Londen na die Baai gereis het om aandag aan die probleem te gee.

“As gevolg hiervan is jong mense geïdentifiseer met wie Vrydag (vandag) onderhoude gevoer gaan word. Vier van hulle gaan dan beslis aangestel word.

“Dit beteken dat die drie aanstellings van Sassa vir Cleary Park nou met vier verhoog sal word.”

Martin voeg by dit het aan die lig gekom dat die name van werklose jong mense van die Northerns op geen van die databasisse in die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, die premier se kantoor of op Coega s’n verskyn nie.

“Wanneer poste beskikbaar word, word van daardie databasisse gebruik gemaak. Ek gaan vervolgens in my kantoor, die ANC se Dawid Stuurman-kantoor, begin om ’n databasis van werklose jong mense op te stel.

“Mense moet hul CV’s bring om op die databasis ingevoer te word.”

Hoop

Om jong mense verder te bemagtig gaan die Khoisan-beweging en die ANC se Dawid Stuurman-kantoor die jong mense wat Dinsdag hul CV’s ingehandig het, bemagtig deur leerlingrybewys-klasse aan te bied.

Reece Scheepers van Windvogel het ook met sy CV opgedaag. Hy het in 2016 gematrikuleer en is sedertdien werkloos.

“Ek het gegaan met die hoop dat daar vacancies gaan wees waarvoor ek oorweeg kan word.

“Ek het gereageer op die boodskap wat ek op sosiale media gekry het.”

Ook Shahid Calvert van Windvogel, wat sedert 2015 werkloos is, het sy CV ingegee met die hoop dat hy gunstig vir werk oorweeg sal word.

Luzuko Qina, Sassa se Oos-Kaapse woordvoerder, het bevestig dat die oorskakeling van begunstigdes vanaf Cash Paymaster Services na die Suid-Afrikaanse Poskantoor-platform en die omruil­ van Sassa-kaarte baie druk op die personeel plaas.

Qina het ook bevestig dat vier mense by die Cleary Park-dienskantoor aangestel gaan word.

“Sommige gemeenskapsleiers het gehelp om mense uit te nooi om hul CV’s te bring, maar die nodige werwingsprosesse sal nagekom word met ’n kortlys en onderhoude.

“Suksesvolle kandidate sal sonder versuim aangestel word, veral omdat tyd glad nie aan ons kant is nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters