22 dae gelede
Inmates tjop af in tjoekie
POTBLOU: Hierdie inmate kon dae lank nie op sy sitvlak sit nie.  ~ VERSKAF

DIE bloed het gespat toe inmates en bewaarders by die St. Albans-gevangenis in die Baai wéér hewig geclash het.

Die inmates het sleg tweede gekom.

Op foto’s kan gesien word van die ouens is lelik bygekom. Een van die manne kon ’n week lank nie sit nie nadat die wardens hom na bewering met knuppels “al oor sy gat ged*nn*r het”.

Die man se boude is pienk en pers geslaan, terwyl ’n hele paar ander gevangenes houe op die rug gekry het.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het die mees onlangse clash bevestig, maar eers nadat Son foto’s met date stamps van Junie verskaf het.

Logan Maistry, woordvoerder van die DKD, voer aan die gevangenes het dit begin. Inmates wou glo tronkbewaarders met ’n mes steek.

Son se bron sê dis twak.

Die laaste paar maande het dié koerant verskeie stories geskryf oor die volatile situasie by St. Albans, insluitend oor bewerings van abuse deur die bewaarders.

In Maart het die DKD erken minstens twee in­mates is in die tjoekie doodgetrap – na bewering deur tronkbewaarders. Nóg 30 is aan natuurlike en on­natuurlike oorsake dood.

In April het die ding behoorlik vlamgevat. Die gevangenes het uit protes teen onder meer die verbod op entjies hul klere aan die brand gesteek.

“Die situasie het nie gechange nie. Dis nog nét so,” vertel een van ons bronne.

Bloedbekke

“Die waarheid is dat die wardens kwaad geraak het omdat ons moan oor maskers en sanitiser. Toe ruk die ding handuit.

“Ek weet nie van die ouens wat bewaarders wou steek nie,” sê die ou.

“Ouens het ná daai fight met bloedbekke rondgeloop en daar’s een wat nie eens kon sit volgens die houe op sy hol nie.”

Maistry het gesê die geweld op 5 Junie het uitgebreek toe “oortreders amptenare met ’n mes gesteek het. Amptenare moes die gevangenes ontwapen en amptenare én oortreders is beseer.”

Die betrokke owerhede ondersoek die voorval. Dis ook by die geregtelike inspektoraat vir korrektiewe dienste (JICS) aangemeld, het hy gesê.

Maistry het verduidelik die JICS het ’n toesighoudende rol.

“Enige aantygings wat aangemeld word, moet ondersoek word, en die wet moet sy loop neem.”

Maistry het gesê aantygings dat die DKD nie maskers en sanitiser verskaf nie, is nie waar nie.

“Die DKD gaan voort om sy Covid-19-rampbestuur-reaksie-strategie te implementeer om die verwoesting van die pandemie in ál sy 243 korrektiewe sentrums in die land te versag.

“Die strategie het die DKD in staat gestel om die welstand van gevangenes en amptenare te verseker.

“Alle gevangenes het toegang tot gesondheidsorg van gehalte, in ooreenstemming met die be­palings van die Nelson Mandela-reëls.”

Die “Nelson Mandela-reëls” is die Verenigde Nasies se minimum vereistes vir die behandeling van gevangenes.

Ons bron het koue water oor Maistry se kommentaar gegooi.

“Hulle praat sommer k*k. Die tronk (bestuur) moet net erken dat hulle ons lewe hel maak hier binne.

“Die wardens kry lekke’ wanne’ hulle ons so moer.

“Hulle het skoons beurtens gemaak en een van daai ouens met ’n bat al oor sy gat ged*nn*r en nog lekke gelag.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters