3 maande gelede
Inisiasies is ook nou kortgeknip
TRADISIE: Ikhankatha Nyameko Jacobs met van sy inisiasieskool-studente laas jaar. Tradisionele leiers is nie gelukkig dat Covid-19 nou inisiasieskole ook affekteer nie.  ~ Mkhuseli Sizani

TRADISIONELE inisiasie-nurses is glad nie happy daaroor dat die inisiasieprogramme opgeskort is nie.

Die uitvoerende raad van die Oos-Kaapse regering het Vrydag op ’n spesiale raadsvergadering in Bhisho besluit g’n inisiasies en umgidi’s (feesviering daarna) gaan nou plaasvind nie.

Premier Oscar Mabuyane het op die vergadering gesê hy het ’n videokonferensie gehou met twee regerings­beamptes en drie boere wat vir landbou-opleiding na Duitsland gereis het.

Hulle was op pad terug na die Oos-Kaap, maar is bang vir die Covid-19-pandemie in die land, het Mabuyane gesê.

Mike Kopisani van die Kampala-inisiasieskool in St. Albans sê hulle besny elke jaar honderde seuns. Hy is teleurgesteld oor die besluit om ini­siasieskole te sluit.

“Dis skokkend en teleurstellend. Daar is nooit met ons gekonsulteer nie. Ons is nie eens touwys gemaak oor hoe ons die virus by inisiasieskole kan voorkom nie.

“Net die afgelope naweek alleen het ek sewe afsprake gehad met ouers wat hulle seuns wil laat inisieer.

“Seuns van oor die land heen kom na my skool, want ek werk as beide ’n ikhankatha (voog tydens inisiasie) en ’n ingcibi (tradisionele besnyer),” sê Kopisani.

Volgens hom is 483 seuns in Desember by sy skool besny.

Pula Lenako, voorsitter van die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit se Ulwaluko-forum, sê daar is nie tyd om te konsulteer wanneer die dood aan jou deur klop nie. “Lewens is op die spel. Almal moet gehoor gee aan die oproep om versigtig te wees.”

Lenako sê daar sal binnekort met die huis van tradisionele leiers (HOTL) vergader word.

Chief Mwelo Nonkonyana, provinsiale HOTL-voorsitter, het ook sy skok oor die sluiting uitgespreek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters