10 dae gelede
In straat geskiet vir sy sonbril
GESKRIK: Ricardo en Anneline Wil­liams is verlig dat hul seun nog lewe nadat hy die naweek in die maag geskiet is. Foto: deon ferreira  ~ 

’N MENS kan nie eens met jou fancy sonbril in Helenvale in die Baaise noorde­like gebiede loop sonder om geskiet te word nie.

Lorenzo Williams (24) van Voisinweg lê in die ICU as gevolg van sy Oakley Dart-sonbril, wat meer as R1 000 werd is.

Alles het begin toe Wil­liams Sondagmiddag met houtkarre in die straat gespeel het.

Volgens sy pa, Ricardo Williams, het ’n man sy seun genader en sy sonbril probeer afvat.

Toe Lorenzo hom teësit, het die verdagte sy vuur­wapen uitgepluk en hom in die maag geskiet. Daarna het hy die sonbril by Lorenzo afgevat.

Anneline Williams, Lorenzo se ma, vertel hulle is geskok, want dit is die eerste keer dat so iets met hulle seun gebeur.

Sy sê hulle was by die huis toe iemand hulle kom roep om te sê Lorenzo lê in die pad.

Uitgekom

“Ons het dadelik daarheen gegaan en toe sien ek hy lê daar in die pad.

“Daar was nog geen ambulanse of polisie daar nie.

STYLVOL: Lorenzo Williams (24) van Helenvale is Sondag in die maag geskiet voordat sy duur Oakley Dart-sonbril afgevat is.FOTO VERSKAF

“Later het een polisie-vên uitgekom. Toe ek na my seun toe gaan, kon hy nie eens praat nie, so erg was die pyn. Ek het liewers nie aan hom geraak nie, want ek was bang dit maak sy beserings erger.”

Ricardo sê sy seun is in die Livingstone-hospitaal se hoësorgeenheid. Hy is in ’n stabiele toestand.

Die jong man is Sondagaand geopereer.

Die dokters het bevind die koeël het reg deur sy maag gegaan.

“Hy’s nie ’n gangster nie. Ek is dankbaar dat my seun nog lewe. Die polisie was nog nie by ons huis nie en ons het ook nog nie ’n saaknommer gekry nie,” voeg Ricardo by.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het gesê geen insident in Voi­sinweg is aangemeld nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters