13 dae gelede
‘Hy’t gesê niks sal happen’
SHELTON MALGAS Foto’s: theo jeptha  ~ 

SHELTON Malgas se lawyer­ het gister aan ’n staatsgetuie gesê sy betrek hom by die skietdood van Donovan “Staal” Berry oor sy wil wraak neem.

Berry het op 3 Mei 2016 in ’n koeëlreën in Barberry-weg, Uitbreiding 31, gesterf.

Malgas (26) staan saam met Elgershin Goliath (27), Nealon Redhouse (21) en Deon Harmse (25) tereg op ’n moordklag.

Die getuie het gister gesê ná die aanval op haar huis in 2016 waarin haar 12-jarige dogter dood is, voel sy Malgas is ’n leuenaar.

Volgens die getuie het Malgas hulle belowe niks sal met hulle gebeur ná Staal se dood nie, maar toe gebeur daar iets.

“Ek voel hy (Malgas) het nie sy woord gehou nie, want ’n promise is ’n promise. Ek is kwaad omdat hy nie sy belofte nagekom het nie.”

Op die vraag deur Malgas se lawyer, Peet Schoonraad, of sy Malgas haat, het sy geantwoord: “Ek kan nie mense haat nie.”

Volgens die getuie het sy eers in Februarie 2017 ’n polisieverklaring gemaak.

Sy het gesê voor die aflê van die verklaring het sy nie die cops van Malgas se involvement vertel nie.

Schoonraad het toe aan die getuie gesê sy weet beskuldigde nommer 4 (Malgas) was nie by die moord op Staal betrokke nie.

Hy het aan haar gestel dat sy hom by die moord op Staal betrek omdat sy kwaad is vir hom. Die getuie het gesê as dit nie vir haar kind se dood was nie, sou sy nie met die polisie gepraat het nie.

“Ná my kind se dood was ek kwaad vir almal.”

As sy die polisie destyds ingelig het oor die omstandighede rondom Staal se dood, sou sy nie in die hof kon staan om te sê wie Staal vermoor het nie, het sy bygevoeg.

Volgens Schoonraad is dit sy kliënt se instruksie dat hy die oggend van die voorval saam met sy suster en nog mense winkel toe gestap het.

Volgens Schoonraad het sy kliënt toe nog sy slaapklere aangehad. Op pad winkel toe het sy kliënt skote hoor afgaan.

Sy kliënt het toe ’n kind gesien hardloop. Volgens Schoonraad het sy kliënt die kind gegryp en na sy (die kind se) ma toe geneem, dis al.

Die getuie het toe gesê die kop-operasie wat sy in 2017 gehad het, het nie haar sig aangetas nie. Volgens haar het sy voor 3 Mei 2016 nie gely aan geheueverlies of gesukkel om te konsentreer nie.

Adv. Mark Driman kla aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters