7 dae gelede
‘Hy vee rustig bloed af’
toneel: ’n Familielid wys waar Millesen van Dyk wreed met ’n mes aangeval en gelos is vir die dood.  ~ 

TERWYL die res van die land regmaak om Vrouedag te vier, moet ’n familie van Helenvale in die Baaise noordelike gebiede sonder hul geliefde suster klaarkom.

Dít nadat Millesen van Dyk (34) vermoor is – na bewering deur ’n vriend in haar eie slaapkamer.

AO Alwin Labans, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Op 6 Augustus omstreeks 16:15 in Kobusweg het ’n manlike verdagte met die 34-jarige oorledene gestry.

“Hy het toe ’n mes uitgehaal en haar in die bors gesteek. Sy is op die toneel oorlede. Die polisie ondersoek ’n saak van moord.”

Volgens familielede het hy haar al in die arm gesteek dat dit breek en haar al verkrag en ook al amper opgehang.

Die voorlaaste stekery het verlede week plaasgevind.

Millesen het toe ’n aanrandingsaak by die polisie aanhangig gemaak en haar familie meen die motief vir die moord op haar is revenge.

“Ek was in die huis toe dit gebeur het.

“Haar vriend het met haar baklei en wou in die huis inkom. Sy wou nie uitgaan na hom toe nie.

“Ek het die deur probeer toehou, maar hy het dit oopgestamp en ek het op die bank geval.

“Hy het haar net begin steek in die bors,” sê Leandra Jacobs, Millesen se suster.

Volgens Jacobs het die verdagte daarna half rustig daar uitgeloop en nog die bloed van sy mes afgevee.

Millesen het in dié kamer die wêreld gegroet en is oorlede voordat die ambulans by die toneel aangekom het.

“Hy was violent.

“Hy het nie respek vir haar gehad nie – sy was altyd bang sy sou seerkry.

“Almal weet hy sou haar doodgemaak het, want hy’t dit al gesê ook,” voeg Jacobs by.

wyle Millesen van Dyk FOTO VERSKAF
verslae: Celestine van Dyk, Allistair van Dyk en Ace van Dyk vertel hoe hulle vir Millesen mis.Foto’s: deon ferreira

Allistair van Dyk (50), Millesen se broer, sê die gemeenskap het ná die voorval self na die verdagte gaan soek.

Hulle kon hom nie kry nie, maar die polisie het.

“Die verdagte (29) is gister 04:30 gearresteer in Deverell-weg. Hy sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van moord,” sê Labans.

Die verdagte is glo ’n bendelid. Ace van Dyk (38), Millesen se broer, vertel Millesen het baie gesê sy is ongelukkig met die vriend.

“Dit was so duidelik soos daglig.

“Maar omdat haar kind by sy ouers woon, het sy maar aanhou soontoe gaan.”

Matilda Werwers (58), Millesen se suster, sê sy was hardwerkend en gewillig om enigiets vir iemand te doen.

Millesen word onthou as ’n behulpsame persoon.

Sy was altyd doenig in die huis en was lief vir sing en kerkgaan.

Sy sou gewoonlik ’n vuur by haar huis maak en dan sou haar vriende oorkom om te kom kuier.

Sy laat twee broers, drie susters en haar kind agter.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters