5 dae gelede
Hy droom van dood, sterf toe
Jade Davis  ~ foto verskaf

ENKELE dae voor sy tragiese dood, het hy gedroom sy geliefde antie is oorlede en dat hy baie oor haar gehuil het.

Nou is Jade Davis (15) van Algoapark, wat die nare droom gehad het,se familie in rou gedompel.

’n Laitie (13) het hom Maandag naby Dykeweg sowat 4 km van sy skool af doodgesteek.

Die voorval het gebeur toe Jade, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Otto du Plessis, saam met ’n vriend ’n ander vriend halfpad huis toe vergesel het.

Gehardloop

Hy was in sy skooluniform toe hy sy laaste asem uitgeblaas het.

Nicole van Wyk (31), Jade se hartseer antie, sê ’n maat saam met wie Jade op skool was, het Maandagmiddag aan hulle deur geklop en gesê Jade is gesteek.

Volgens Van Wyk het sy onmiddellik na die toneel gehardloop.

“Toe ek daar kom, toe lê Jade klaar inmekaar. Toe het hulle die scarf om sy nek gesit sodat die bloeding kan stop.”

Volgens haar het Jade toe nog ’n pols in sy nek gehad, maar hy het geroggel.

“Die mense wat op Jade afgekom het, het die ambulans gebel.”

Sy sê hulle het op die toneel ook na mense geroep om die ambulans te ontbied.

Volgens haar het hulle omtrent ’n uur op die ambulans gewag, “as dit nie langer was nie”.

Sy voeg by Jade is in die nek gesteek.

Van Wyk verduidelik met trane in haar oë sy het Jade gesmeek om wakker te word.

Volgens haar het hy na haar gekyk met trane in sy oë.

Sy sê toe die ambulans op die toneel aankom, het die paramedics Jade­ probeer resuscitate.

Volgens haar het die paramedics hulle kort hierna meegedeel hy is dood.

“Toe my ma agterna daar aankom, het hulle reeds die silwer ding oor hom gegooi.”

Jade se familie is baie upset oor gerugte dat hy na bewering kort voor die voorval iemand van ’n USB stick wou rob. Hulle sê hy was nie ’n kind wat mense gerob en gesteek het nie.

Die familie voeg by Jade het ook nie drugs gebruik nie.

Hulle wou weet hoekom hy ’n USB sou steel as daar in hulle huis nie eens fasiliteite daarvoor is nie.

Volgens die familie het Jade alles gekry wat hy wou hê.

Virgilia van Wyk (29), sy ander antie, sê: “Dis nie in ons bloed om mense te beroof nie”

Intussen sê Chantal Rensburg (42), nog ’n antie van Jade, die familie kan in dié stadium geen begrafnisreëlings tref nie, want hulle kan Jade se ma, Liezel Davis, nêrens opspoor nie.

Volgens hulle is sy iewers in die Baai.

Patricia van Wyk, Jade se ouma, het hom grootgemaak.

Hy het tot en met sy heengaan by Patricia gewoon.

Jade se familie het sy lyk gister gaan uitken.

Uitgedraf

Tinus van Eeden, die hoof van die Hoërskool Otto du Plessis, sê wat gebeur het, is tragies.

Volgens hom was Jade ’n baie stil seun wat vir die skool se o. 15-rugbyspan uitgedraf het.

Van Eeden sê hy onthou die dag nog goed toe Jade se ouma Patricia hom by die skool ingeskryf het.

Volgens Van Eeden is hy besig om leerders te identifiseer wat sielkundige berading benodig.

Hy sê hy het gister die nuus van Jade se dood amptelik aan die leerders en personeel oorgedra.

  • Die 13-jarige seun het gister in die Nerina-kinderhof verskyn.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê die saak is tot 7 Oktober uitgestel vir nader ondersoek.

Volgens haar is die seun in die sorg van sy pa geplaas.

Die polisie ondersoek klagte van moord en roof.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters