6 maande gelede
Hy begin skool sonder sy ma
Veronica Fritz  ~ Foto Verskaf

TWEE dae voordat ’n jong ma haar gr. 1-seun op sy eerste skooldag skool toe sou vergesel, is haar lyk in bosse in Riemvasmaak gevind.

Die oorledene was Veronica Fritz (26) van Arcadia in die Baaise Northerns.

Fritz het die afgelope ses maande by Wimpy in die Greenacres Mall gewerk.

Volgens Celestine Rossouw (40) het haar ma, Katriena Peters (80), Fritz grootgemaak sedert sy drie maande oud was.

Rossouw sê gister Fritz was soos haar eie suster.

Volgens Rossouw het sy Fritz Saterdag voor 23:00 laas gesien­ toe sy haar ouerhuis­ verlaat het.

Rossouw sê Fritz het aan niemand gesê waarheen sy op pad is nie.

Rossouw sê toe Fritz Sondag nog nie teruggekeer het huis toe nie, het hulle begin bekommerd raak.

Sy sê toe sy en haar suster, Charlene, Maandag op pad was polisiestasie toe om Fritz as vermis aan te meld, het Charlene ’n phone call uit Riemvasmaak gekry.

Uitken

Die persoon het Char­lene meegedeel daar lê ’n lyk in die bos by hulle en dat hulle moet kom kyk of dit dalk Fritz se lyk is.

Volgens Rossouw het sy en Charlene toe afgesit na die bos in Riemvasmaak.

Sy sê toe hulle daar aankom, was die cops nog nie op die toneel nie.

Rossouw sê hoewel hulle ver van die lyk af gestaan het, kon hulle Fritz aan haar klere uitken.

Volgens Rossouw het Fritz met haar gesig in die grond gelê.

Rossouw vertel Fritz het ál haar klere aangehad. Net haar tekkies was missing.

Rossouw sê sy het in trane uitgebars omdat hulle dit nie verwag het nie.

Volgens haar het die familie Fritz se lyk gisteroggend in die lykhuis gaan uitken.

Volgens Rossouw het Fritz se seun, Chivandré (7), sedert hulle hom van sy ma se dood vertel het baie teruggetrokke geraak.

Oorleef

Sy sê Chivandré gaan nog steeds vandag skool toe en sy oupa, Piet Peters, gaan hom vergesel.

Volgens Fritz is hulle reeds druk besig met die begrafnisreëlings.

Fritz word ook oorleef deur ’n dogtertjie van ’n jaar en ses maande oud.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n moorddossier is aangelê.

Volgens haar gaan ’n nadoodse ondersoek binnekort gedoen word om die presiese oorsaak van Fritz se dood vas te stel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters