8 dae gelede
Huurgeld nog ’n grys gebied
kyk dieper: Ngaba Bha­nga, voorsitter van die metro se komitee vir menslike nedersettings, sê hulle is besig met ’n oudit. Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

DIE Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is druk besig om vas te stel hoeveel mense in die vier ouetehuise in die North­erns sal moet betaal.

Tans betaal die inwoners geen huurgeld nie. Die munisipaliteit bestuur die tehuise.

Die betaling van huurgeld is gestaak toe die Metro die bestuur van die Bethelsdorp-, Adock-, Elizabeth Stuurman- en Allan Hendrickse-ouetehuis oorgeneem het. Luidens ’n verslag van die munisipaliteit se komitee vir menslike nedersettings is daar nie nou ’n manier hoe hulle nuwe huurders kan goedkeur nie.

Na raming is daar sowat 20 vakante eenhede tussen die vier ouetehuise.

Die huurbedrae wat in Uitenhage gevra word, word as basis gebruik om te bepaal wat regverdige huur­bedrae sal wees vir die vier ouete­huise in die Northerns.

Inwoners van Nic Claassen en Cuyler Court in Uiten­hage betaal ongeveer R336 per maand vir ’n kamer. Dit sluit water in, maar nie elektrisiteit nie. Kragbokse en koopkrag is wel beskikbaar.

Van die huurders by die betrokke ouetehuise kwalifiseer luidens die verslag vir die Metro se bystands­program vir armes.

Hoewel daar nie ander geriewe is wat voorsiening maak vir senior burgers wat ’n staatspensioen kry nie, is daar nie bloot ’n algemene vergelyking getref nie.

Die kamers by ouetehuise in die Northerns is ver kleiner as dié in Uitenhage omdat inwoners ’n ablusieblok deel.

In Uitenhage is die bad­kamers in die kamers en krag van die inwoners in die North­erns is ingesluit.

Die Metro oorweeg ’n huurbedrag sonder elektrisiteit, en die installering van kragbokse by elke eenheid.

’n Tweede moontlikheid wat bekyk word, is om ’n vaste bedrag van R200 vir elektrisiteit in te sluit totdat kragbokse ingesit word.

’n Lid van die behuisingskomitee, Trevor Louw, sê hulle wil die ouetehuise in die North­erns omskep in ’n veilige, gerieflike hawe waar senior burgers vreedsaam en gemaklik kan leef.

Volgens Louw moet die Northerns se ouetehuise gelig word tot op die standaard van dié in plekke soos Somerstrand, Uitenhage en Despatch.

“Ons sal nooit ons se­nior burgers ’n buiten­sporige bedrag vra nie. Dit moet bekostigbaar wees sodat hulle nog iets van hul pen­sioen kan oorhê om van te leef.”

Ngaba Bhanga, voorsitter van die komitee vir menslike nedersettings, sê ’n oudit word gedoen om te bepaal hoeveel inwoners daar is, wie wettig daar hoort en wie op die waglys is.

“Hierna gaan die huurders geregistreer word en huurkontrakte teken. Ons doen alles in ons vermoë om seker te maak ons verbeter die lewe van ons seniors. Hul omstandighede gaan verbeter; hulle is ons prioriteit.”

’n Inwoner van die Elizabeth Stuurman-tehuis sê hulle mind nie om ’n bekostigbare bedrag te betaal nie, maar die metro sal die plek geriefliker en leefbaarder moet maak. “Dit sou soveel beter gewees het as ons badkamer deel gevorm het van ons eenheid. Sommige mense is bang of te sieklik om badkamer toe te stap.”

’n Inwoner van Adcock sê: “Ek gee nie om te betaal nie, maar within reason. Ek het andersins geen klagtes nie.”

Terwyl die metro kopkrap oor huurgeld, hoop die koste om die ouetehuise in stand te hou en op te gradeer op. In die boekjaar 2016/-’17 het dit meer as R6 miljoen beloop. Die begroting vir die huidige boekjaar is R4 miljoen.

Die raad moet besluit of hy huurgeld van R187 tot R336 per maand (afhangend van die kamer) gaan verhoog.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters