6 dae gelede
Huis nr. 3 in puin in
tragies: Maxwell Flannagan staan waar sy gesinshuis in Schauderville afgebrand het.  ~ 
benodig hulp: Edward Camealio (links) sê Maxwell Flannagan (regs) en sy familie moet plek in ’n emergency shelter kry. Foto’s: Deon Ferreira
sif deur as: Maxwell Flannagan en sy familie het Maandag alles in ’n huisbrand verloor.
tragies: Maxwell Flannagan staan waar sy gesinshuis in Schauderville afgebrand het.

HULLE het net mooi alles in die huisbrand verloor – letterlik alles behalwe die klere wat hulle aan het.

’n Gesin van Couldridgeweg in Schauderville in die Baai se noordelike gebiede sit nou in sak en as ná die vernietiging van die huis waarin hulle grootgeword het.

Dit is blykbaar die derde huis in dié area wat binne drie dae afgebrand het.

Die vlamme het Maandagmiddag vermoedelik in een van die slaapkamers uitgebreek en na die res van die huis versprei.

Die enigste genade is dat niemand verbrand het nie, want niemand was daai tyd tuis nie.

Maar die plek is nou ’n bouval, sonder ’n dak en met alles binne tot as gebrand.

Die brandweerdienste was vinnig op die toneel en het darem die servant’s quarters gered. Die gesin slaap nou snags daar.

Maxwell Flannagan (46) woon saam met sy twee broers en twee susters en hul twee kinders.

Flannagan se ouers is oorlede, maar die sibbes het saam in die huis groot­geword.

“Ek was besig om te werk by die 1st Stop toe iemand my kom sê ’n huis in my straat brand.

“Ek het toe gaan kyk en gesien dis ons huis. Die brand het in die slaapkamer begin en so versprei.

“Die gemeenskap en almal het gehelp om water op die brand te gooi, maar die vlamme was net te erg.

“Ons het net mooi alles verloor. Ek is in dié huis gebore,” sê Flannagan hartseer.

Flannagan voeg by hul kragboks se bedrading het probleme gegee.

“Ons het die plug by die TV ophou gebruik omdat dit geruik het asof iets brand of short.”

Edward Camealio (44), ’n gemeenskapsleier in Schauderville, het ook die huis gaan besoek.

“Hierdie is ’n disaster en die mense moet in ’n emergency shelter geplaas word. Daar moet ook disaster teams­ in die wyke wees om aan sulke sake te werk.”

Camealio sê voorts: “Ek het ’n verslag aan raadslid Isaac Abrahams gestuur.

“Daarin sê ek daar is ’n hele paar huise in Schauderville wat die laaste ruk gebrand het.

“Ek het gevra wat die munisipaliteit gaan doen om dié mense by te staan.

“Die bedrading in Schauderville is baie oud en is in die 1940’s laas gedoen.

“Die meeste mense leef op social grants en is werkloos. Hulle het nie die means om vir nuwe bedrading te betaal nie,” sê Camealio.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters