8 dae gelede
Huis-droom bly buite bereik
MOEDELOOS: Marlene Booysens sê sy het hoop opgegee op haar droom van haar eie huisie.  ~ Mkhuseli Sizani

VASGEVANG in ’n rystoel.

Vasgevang in Covid-19. Vasgevang in die wete dat sy blykbaar nooit ’n Hop-huisie van haar eie sal besit nie.

Marlene Booysens (57) van die Vastrap-plakkerskamp in die Baai hunker nou al 10 jaar na ’n ordent­like dak oor haar kop.

Hoewel bejaarde en gestremde aansoekers veronderstel is om voorkeur by die departement van menslike nedersettings te kry, doen Booysens al ’n dekade lank aansoek om ’n Hop-huis – sonder enige sukses.

Intussen sit sy in ’n shipping container waar sy en 21 ander gestremdes en bejaardes naby mekaar in Vastrap woon.

Haar nood moet sy in ’n 20 F-drom verlig en haar dogter moes skool los om na haar te kyk.

Toe Son haar besoek het, het Booysens se rystoel vasgesit op die spot waar sy gesit en kyk het hoe haar buurt se kinders tussen die hope vullis speel.

Booysens het in trane uitgebars toe sy oor haar lewensomstandighede uitgevra is.

“Ek bid elke dag dat die Here my van ’n huis moet voorsien.

“Die munisipaliteit se failure om my van ’n huis te voorsien, het ook my kind van ’n education beroof.

“Selfs toe my regterbeen in 2018 weens gangreen geamputeer moes word, het niemand na my hulpkrete vir ’n huis geluister nie,” sê sy.

Volgens Booysens moes sy onlangs vir foto’s saam met hulle councillor pose toe daar ses chemiese toilette in die buurt afgelaai is.

OPOFFER: Davidene Booysens was ’n skrander leerder wat skool moes los om na haar ma om te sien. Foto: Mkhuseli Sizani

Maar hierdie toilette is nie prakties vir haar gebruik nie, sê sy.

“Ek moet nog steeds my ding in die emmer en in bosse doen, want ek kan nie in daardie toilette in nie.

“Dit is vernederend, want daar is geen privaatheid nie,” verduidelik sy.

Medaljes

Haar dogter, Davidene (17), sê voordat sy noodgedwonge die skool moes verlaat om haar mammie by te staan, was sy die Hoërskool Booysenpark se toppresteerder in gr. 10.

“Ek het die meeste trofeë en medaljes wat ek vir wiskunde en wetenskap gekry het, in ’n brand verloor.

“Ná daardie voorval het ek besluit ek kan nie my ma alleen laat nie, want sy is ons enigste broodwinner met die ongeskiktheidstoelaag wat sy ontvang,” vertel Davidene.

Haar droom was om eendag ’n meganiese ingenieur te word, sê sy.

Die wyksraadslid, Vukile Dyele, sê lank voordat hy in 2016 ’n raadslid geword het, moes Booysen al hervestig geword het.

“Sy (Booysens) was een van die mense wat twee weke gelede na Jaagvlakte hervestig moes word, maar toe het die gemeenskap daar munisipale trokke verjaag wat die inwoners se besittings moes vervoer.

Tydelike

“Sy gaan binnekort daarheen trek,” beloof Dyele.

Masiza Mazizi, ’n woordvoerder van departement van menslike nedersettings, het ook gesê Booysens gaan binnekort ’n tydelike huis kry wat vir haar gestremdheid geskik is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters