14 dae gelede
Hospitaal saans toe ná rooftog
no-show innie nag: Die Joubertina-hospitaal het nou nie meer nagpersoneel nie weens veiligheidskwessies.Foto: mkhuseli sizani  ~ 

SOWAT 20 000 pasiënte ly nou daaronder omdat die Joubertina-gesondheidsentrum nie meer saans oop is nie weens misdaad.

Die Kou-Kamma Munisipaliteit het verlede jaar besluit om die fasiliteit nie meer saans oop te hou nie.

Ds nadat ’n rooftog by die hospitaal plaasgevind het.

Voeteslepery

Ten spyte van desperate inwoners en politieke partye se oproepe aan die Oos-Kaapse departement van gesondheid om sekuriteit by die hospitaal te verskerp, sleep die departement voete.

Hierdie voeteslepery het die personeel genoop om die nagskof-diens op te skort, uit vrees vir hulle veiligheid.

Kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat hulle ’n klag van sakeroof by die hospitaal ondersoek. Geen arrestasies is egter al gemaak nie.

Twee mans het laas November diep in die nag (omstreeks 01:30) by die hospitaal opgedaag en voorgegee hulle is siek.

Hulle het toe die sekuriteitswag oorrompel en hom vasgebind.

Drie ander rowers het hulle by hulle makkers aangesluit en is toe na die ontvangsarea waar hulle die kassier oorrompel het.

Daar is toe by die apteek ingebreek, waar ’n onbekende aantal items gebuit is.

Hospitaalpersoneel is ook beroof van hulle selfone en kontant. Twee hospitaalvoertuie is ook gesteel.

Hulle is later sowat 15 kilometer van die hospitaal af – in die rigting van Port Elizabeth – verlate gevind.

Koko Yona, die voorsitter van die hospitaalkomitee, sê die voorval het die personeel erg getraumatiseer, hoewel hulle agterna berading ontvang het.

“Sedert daardie voorval voel die verpleegsters, wagte, klerke, kassiere en skoonmakers nie gemaklik daarmee om nagskof te werk nie.

“Ons het vir ons distrikskantoor gesê dat die sekuriteit opgeskerp moet word. Ons het ook gevra vir veiligheidshekke en CCTV-kameras, maar ek voel nie gelukkig nie, want ons omstandighede word nie as ’n noodgeval beskou nie,” het Yona gesê.

Hy sê die gevolge van die voetslepery is dat 20 000 pasiënte nou daaronder ly.

Volgens Yona het die distriksbestuurder hom onlangs verwittig dat hy (die bestuurder) nou eers die tender-procurement-dokumente ontvang het.

“Ons werk net van sewe-uur soggens tot sewe-uur saans.

“Enige een wat later siek word, moet dan gaan na hulle ander, naaste hospitaal in Kareedouw, wat 45 kilometer verder is,” het Yona verduidelik.

Jessica Plaatjies, die ANC-wyksraadslid, sê hulle het hulle burgemeester, Samuel Vuso, oor die ongemaklike situasie ingelig.

Sy sê Vuso het onderneem om die LUR vir gesondheid te vra om self te kom kyk hoe beroerd hulle situasie is.

Natasha Snyman (50), ’n pasiënt, sê hulle word nou gereeld weggewys by die hospitaal.

“Voor die rooftog is ons nooit weggewys nie.

Ambulans

“Ons sukkel nou saans, want die hekke van die hospitaal word al sesuur toegemaak, en dan word daar net gekyk na die pa­siënte watreeds by die hospitaal is.

“Dit baat ook nie ’n mens bel vir ’n ambulans nie, want dit vat óf lank om te kom óf steek glad nie uit nie,” het Snyman gekla.

Die LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, se woordvoerder, Judy Ngoloyi, sê hulle sal in die volgende boekjaar voorsiening maak vir die opskerping van sekuriteitsmaatreëls by die Joubertina-hospitaal.

“Dan sal dienste na normaal terugkeer,” het sy gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters