13 dae gelede
Hof hoor oor 2 skietvoorvalle
Walter Williams  ~ Deon Ferreira

’N JONG man het die afgelope week skuld ontken op ’n rits klagte, waaronder moord.

Walter Williams (21) van Helenvale staan tereg op onder meer ’n moordklag, drie klagte van poging tot moord, twee klagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en twee klagte van die onwettige besit van ammunisie.

Sy hofverskyning spruit uit ’n voorval op 9 Desember 2018.

’n Minderjarige seun het dié dag met ’n jong kind vanaf ’n winkel in Anita­rylaan gestap.

Luidens die klagstaat het die beskuldigde in die saak hom genader. Daar was ’n onbekende man in die beskuldigde se geselskap.

Aangesê

Toe die seun die beskuldigde en dié se vriend sien, het hy die kind aangesê om in die winkel agter te bly.

Toe die seun op ’n oop stuk veld tussen Anita­rylaan en Reginaldweg stap, het hy volgens die klagstaat agtergekom die beskuldigde volg hom.

Die beskuldigde het die seun bly volg.

Die seun het toe gesien hoe ’n vuurwapen uitgepluk word.

Luidens die klagstaat het die seun die mense in die straat gewaarsku oor die moontlike gevaar.

Terwyl die seun gehardloop het, het die skote geklap vanuit die rigting waar die beskuldigde was.

Die seun het veilig by sy huis aangekom.

Luidens die klagstaat behoort die beskuldigde aan die bende Nice Time Bozza (NTB).

Die klagstaat lui die seun is ’n getuie teen ’n bendelid wat ook by die NTB-bende geaffilieer is.

Twee onskuldige minderjariges is in die skietvoorval gewond.

Die kinders het dieselfde dag nog by die Living­stone Hospitaal mediese behandeling ontvang.

Die beskuldigde word ook betrek by ’n voorval by ’n huis in Kobusweg.

Op 10 Desember het hy by die huis aangedoen.

Die klagstaat lui die mense wat in daardie stadium in die huis was, was besig om kaart te speel.

Die beskuldigde het saam met hulle gesit, ’n glas koeldrank gedrink en volgens die klagstaat toe ’n vuur­wapen uitgehaal.

Luidens die klagstaat het die beskuldigde – nadat hy die koeldrank klaar gedrink het – die vuurwapen op Richard Marius Stuurman gerig en hom geskiet.

Nadat Stuurman op die vloer geval het, het die beskuldigde luidens die klagstaat ’n vuurwapen op een van die ander mense in die huis gerig.

Die beskuldigde het toe die perseel verlaat, lui die klagstaat.

’n Nadoodse ondersoek deur dr. Prudent Lulamile op 19 Desember het aan die lig gebring Stuurman het weens ’n skietwond in die kop gesterf.

Die beskuldigde is op 21 Januarie 2019 in hegtenis geneem. Adv. Rafiek Ahmed kla aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters