10 dae gelede
Hof hoor oor 2 arrestasies
Sicelo Mbanga  ~ 

DIE twee cops wat twee vermeende huurmoordenaars in 2016 in hegtenis geneem het, het gister in die Baaise hooggeregshof getuig in die moordverhoor van sers. Mlungisi Tsitsi en sy vyf medebeskuldigdes.

Tsitsi, ’n 37-jarige cop van Motherwell, staan saam met die 32-jarige Thembani Rorwa­na, Msindisi Bhe­bhula (26), Ndiphe Soqokomashe (47), Sicelo Mba­nga (30) en Luyanda Nyu­mka (36) tereg vir sameswering om moord te pleeg, moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Dit spruit uit ’n voorval op 12 November 2015 toe Tsitsi na bewering huurmoordenaars gekry het om sy cop-vrou, Nomatha­msanqa Mtwesi, te vermoor omdat sy na bewering ’n affair gehad het.

Mtwesi was ’n cop by die Zwide-polisiekantoor.

Konst. Patrick Jack van die KwaZakhele-polisie­stasie het gister getuig hy was op 13 Mei 2016 aan diens.

Volgens hom het iemand in Soweto on Sea hom en sy kollegas meegedeel hy of sy weet waar Mbanga wegkruip.

Hy het getuig die persoon het aan hulle uitgewys waar in Chatty 11 Mbanga glo wegkruip.

Volgens Jack het hulle Mbanga daar aangetref. Hy sê die polisie het beslag gelê op ’n selfoon. Jack sê hy het Mbanga se regte aan hom voorgelees. Volgens Jack het die inhegtenis­neming tussen 01:00 en 02:00 plaas­gevind.

Jack het tydens kruis­ondervraging aan Mbanga se lawyer, James O’ Riley, gesê daar was ten tyde van Mbanga se inhegtenisneming ook ander mense in die huis.

Volgens hom was Mbanga se girlfriend en ’n mans­persoon in die huis.

O’ Riley het Jack gelei om te getuig dat die selfoon waarop beslag gelê is nie in Mbanga se besit gevind is nie.

Volgens Jack is die selfoon gevind in dieselfde kamer waar Mbanga was.

Kort ná Jack het AO Reinhard Marx by die getuiebank ingeskuif.

Marx het getuig hy het Nyumka alias Jomo op 27 Februarie 2016 gearresteer.

Volgens Marx het die ondersoekbeampte in die saak hom destyds genader om ’n persoon met die noemnaam Jomo in hegtenis te neem.

Marx het gister getuig hy ken Jomo persoonlik.

Volgens Marx het hy inligting ontvang dat Marx by NU11 by ’n taverne is. Hy sê twee kollegas het hom daardie aand bygestaan.

Marx het getuig hy het weggekruip agter ’n vragmotor wat sowat vyf meter weg van die tavern geparkeer was.

Volgens Marx het hy die twee cops gevra om by die tavern in te gaan om te kyk of Nyumka daarbinne is.

Marx het getuig hy het later gesien hoe die twee cops en Nyumka by die tavern uitgestap kom.

Hy het gesê Nyumka en die twee cops het gestap in die rigting waar hy (Marx) weggekruip het.

Marx het gesê die oomblik toe Nyumka by die agterkant van die vrag­motor kom, toe gryp en neem hy hom met die hulp van die twee cops in hegtenis.

Volgens Marx het hy wel Nyuamka se regte aan hom verduidelik.

Marx het getuig hy het ’n wit BlackBerry-selfoon in Nyumka se sak gevind. Volgens Marx het hy Nyumka geneem na die Motherwell-polisiestasie, waar hy hom ook op die betrokke saak aangehou het.

Marx het tydens die kruisondervraging deur Nyumka se lawyer, Eric Skepe, gesê Nyumka het self voorheen aan hom genoem sy noemnaam is Jomo.

Hierop het Skepe gesê: “Daai is baie Jomo’s in die townships.”

Volgens Marx het Nyumka hom met sy inhegtenisneming probeer teësit.

Die verhoor voor regter D. Chetty duur vandag voort. Adv. Marius Stander kla aan.

Die beskuldigdes bly in aanhouding.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters