15 dae gelede
Hoës het lof vir Watson

VERSKEIE belangrikes in die Baai het hulde aan oorlede Gavin Watson (71) gebring.

Watson het op 26 Augustus gesterf toe hy in ’n motorongeluk betrokke was.

Watson het met ’n maatskappy-kar in die omgewing van die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Johannesburg gery toe sy kar ’n beton-pilaar getref het.

Getuig

Watson is geprys vir sy bydrae in die struggle teen apartheid, sy sportmanskap en sy geloof in God. Hy was die grootbaas van Bosasa, oftewel African Global­ Operations.

Watson is oorlede ’n dag voordat hy in ’n ondersoek na sy belastingsake sou getuig. Daar is bewerings dat sy maatskappy betrokke was by korrupsie en geldwassery.

Talle belangrikes, veral ANC-grootkoppe, het die begrafnis in die Veremark Sentrum bygewoon.

Struggle songs is gesing en in plaas van trane stort, het begrafnisgangers om Watson se kis gedans.

Roth Watson, Gavin se enigste seun, het hom as ’n merkwaardige man beskryf.

“Mense is natuurlik aangetrek deur sy positiewe energie en sy liefde was aansteeklik.

“Dad was ’n man van God. Sy geloof was onwankelbaar,” onthou hy.

Hy vertel sy pa het elke dag met gebed begin en het daarna verwys as “miracle mornings”.

Gavin se dogter, Lindsay, het ook ’n spreekbeurt gehad. Sy het ’n brief gelees wat haar oorlede ouma destyds aan haar pa geskryf het.

Gavin se jonger broer, Valence, het gesê God se tyd is nie die mens se tyd nie.

Hy sê Gavin sou wou hê dat die land, die Oos-Kaap en Port Elizabeth nie verdeeld is nie en dat alle mense werk kry.

Die Oos-Kaapse ANC-premier, Oscar Mabuyane, het Gavin ’n comrade genoem.

“Gavin was ’n nasiebouer. Ons comrade se bloed was swart, groen en goud, terwyl dit nie fashionable was om dit te doen nie.

“Die Watson-familie het baie gesuffer onder apartheid en is konstant geteister deur die regime vir hulle siening dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon – swart en wit.”

Oud-pres. Jacob Zuma het gesê hy hoop die verslag oor Watson se dood bewys sy suspicions verkeerd.

“Ek is baie bekommerd oor die manier hoe com­rades­ deesdae sterf.

“Daar is baie gaps in die verslag wat die familie my gegee het oor die manier hoe comrade Gavin gevind is en hoe hy dood is.

“Ek hoop comrade Gavin is nie een van diegene wat slinks uit die weg geruim is nie.”

Zuma het gesê Gavin het ’n bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die land.

Volgens hom het Gavin by hom in Nkandla kom kuier. Hy onthou hom as ’n broer en vriend.

Mongameli Bobani, burgemeester, het gesê daar is baie vrae en onsekerheid rondom Gavin se dood.

Gespeel

“Maar ons het ook baie sekerheid oor sy lewe en legacy.

“Gavin, sy broers en breër familie het ’n merkwaardige rol in die anti-apartheid struggle gespeel,” sê Bobani.

Ander sprekers sluit in Joe Gumede, direkteur van African Global Operations, en Themba Ledwaba, wat destyds saam met Gavin gespeel het in die KwaZa­khele Rugby Union (Kwaru).

Watson is in die Suideinde-begraafplaas ter ruste gelê. 

draers: Familielede van Gavin Watson neem sy kis in die Veremarksaal in die Baai in.
hulde: Gavin Watson se familie en politieke hoës woon gister sy begrafnis by. Van links is Oscar Mabuyane, Leigh-Ann Watson, Jacob Zuma, Lindsay Watson, Megan Watson en Valence Watson.Foto’s: deon ferreira
eer: ANC-grootkoppe en struggle heroes­ staan om Gavin Watson se kis.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters