2 maande gelede
Help ou gróót jump maak
fiks: Sadah Felix (17) van Jacksonville oefen buite sy huis. INLAS: Sadah het met dié tekkies ’n wêreldrekord vir spiesgooi verbeter. As hy genoeg geld kry, kan hy oorsee gaan deelneem. Foto’s: deon ferreira  ~ 

’N LAITIE maak ál meer naam in die atletiekwêreld – al is hy serebraal gestrem en het hy nie die regte drag nie.

Sadah Felix (17) is die enigste atleet in die Oos-Kaap wat deurgedring het tot vanjaar se World Para Athletics Junior Cham­pionships. Die byeenkoms word van 1 tot 4 Augustus in Nottwil, Switserland, aangebied.

Die South African Sports Association for the Physically Disabled (SASAPD) en die South African Sports Confederation and Olympic Committee het Felix gekies om die land te verteenwoordig.

Hy is een van 17 o. 20-mansatlete wat gekies is.

Felix is van Jackson­ville in die Baaise noordelike gebiede.

Hoewel sy familie alles in hulle vermoë doen om sy passie te ondersteun, kon hulle nog nie atletiekklere bekostig nie.

Dit het die jong atleet nie gekeer nie. Op 15 het hy reeds met sy huisklere en tekkies sonder spikes begin presteer.

Verower

Hy het minder beheer oor die linkerkant van sy lyf as oor die regterkant. Dit is selfs vir hom moeilik om iets behoorlik vas te hou.

lucky skoene:

Maar die talentvolle seun se deursettingsvermoë wys enige iemand kan shine, ongeag hulle omstandighede.

Hy het nooit training ontvang nie, maar het ’n string medaljes op verskillende kampioenskapsbyeenkomste en kompetisies verower.

Verlede jaar in Bloemfontein het Felix by die SASAPD National Champion­ships onder meer in die spiesgooi-afdeling ’n rekord verbeter.

Benewens spiesgooi blink Felix uit in verspring en die 100 m- en 200 m naelloop.

“My juffrou by my skool het gesê ek moet dit try. Toe ek deelneem, het ek baie excited gevoel en wou dit dadelik weer doen.

“Wanneer ek op die veld is, voel ek hoe my hart klop van die adrenalien,” vertel hy.

“Ek wil oorsee gaan deelneem en mense in die northern areas wys daar is in dié plek mense wat skyn. Aan ander jong mense van hier wil ek sê: Moenie moed opgee nie. Jy kan ver kom.”

presteer: Sadah Felix spog met sy medaljes en ’n trofee vir sy deelname aan atletiek vir gestremdes.

Hy voeg by: “Ek is happy en wil die res van my lewe atletiek doen.”

Alwin Rossouw, Felix se pa, hou gereeld geld­insamelings en vra selfs die gemeenskap vir donasies.

Hy het ook al verskeie sportorganisasies genader.

Felix-hulle moet sowat R50 000 opdok om sy drome te bewaarheid.

Die helfte van dié bedrag moet teen môre betaal word.

Enige iemand wat kan help met sporttoerusting en -klere, of donasies vir sy trip en verblyf, kan Al­win bel by 067 700 6625.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters