13 dae gelede
Help Baai kop bo water hou
Marlon Daniels  ~ Foto Verskaf

DIE verwoestende impak van Covid-19 word oor die wêreld heen gevoel – en die Nelson Mandelabaai Metro is geen uitsondering nie.

Só sê rdl. Renaldo Gouws, die DA-woordvoerder oor ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou in die Metro.

Gouws dink die munisipaliteit moet nou meer as ooit tevore bystand lewer waar hy kan om te verseker dat die Metro se ekonomie hierdie onstuimige tyd oorleef.

Volgens Gouws word plaaslike ondernemings die swaarste getref.

Hy sê die beperking op die bedrywighede van restaurante, pubs en clubs wat drank verkoop – dat hulle nie ná 18:00 sake kan doen nie – kan ’n massiewe negatiewe ekonomiese impak hê.

Volgens hom raak dit nie net die ondernemings nie; dit raak ook hulle werknemers en die hele Metro.

Volgens Gouws het die DA ’n skrywe gerig aan rdl. Marlon Daniels, die mayco-lid vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou.

Daarin word gevra die Metro die las moet help verlig van plaaslike onder­nemings wat huurooreenkomste met die munisipaliteit het.

Hy sê dit sal verseker dat die toerisme­sektor ’n bietjie kan asemhaal. Dít sal die impak op ekonomiese ontwikkeling hopelik verminder.

Die DA vra dat ’n uitstelling van die huur oorweeg moet word vir onder­nemings wat by die munisipaliteit huur.

Gouws sê SMME’s en die armes word hard geslaan omdat hulle geen veiligheidsnet het om in hierdie moei­like tye op staat te maak nie.

Hy meen die Metro moet die weg baan deur ’n “disaster relief package” te ontwikkel en in werking te stel om sakeonder­nemings deur hierdie swaar tye te dra.

Ondersteun

Hy sê die party het ook ’n skrywe aan die waarnemende stadsbestuurder gerig om te bepaal of die Metro enige onmiddellike plan het om sakeondernemings – en gevolglik die ekonomie – te onder­steun.

Gouws sê vir die oorlewing van die SMME’s stel die party onder meer ’n rates and taxes payment holiday en refuse payment holiday voor.

Volgens hom kan dié verligting teen die rampfonds gedebiteer word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters