9 maande gelede
Hele paar slagoffers ná reëns
KAPT. MALI GOVEnder  ~ 

DUIKERS van die polisie en lede van die honde-eenheid het hul hande die naweek vol gehad op soek na talle slagoffers van verdrinking.

Die verdrinkings was weens swaar reën en oorstromings­ noord van die Groot-Keirivier en in die Mthatha-omgewing.

Die name van die tien slag­offers is in hierdie stadium ook nog nie bekend nie.

Kapt. Mali Govender, ’n polisiewoordvoerder, het gister gesê die liggaam van net een van die slagoffers is gevind.

Die slagoffers is:

  • twee vroue (41 en 45), wat deur die Nobhokwe­rivier by Cofimvaba meegesleur is (die liggaam van een van hulle is die enigste van ál die slagoffers wat gevind is);
  • ’n vrou (40) in die Tsojanarivier in Tsomo;
  • ’n seun (13) in die Mthatharivier;
  • ’n seun (17) en twee mans (19 en 20) in die Groot-Keirivier;
  • ’n man (ouderdom onbekend) in die Mbashe­rivier;
  • ’n man (27) in die see by Koffiebaai en
  • ’n man (22) by Eastern Beach in Oos-Londen.

Govender sê die polisie se soektog na die liggame duur voort.

Sy maan die inwoners van die gebiede waar swaar neerslae uitgesak het, om riviere in vloed nie oor te steek of dit in onstuimige see te waag nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters