13 dae gelede
‘Haglike lewe’ eis hoogste prys
DOODGESKOK: Royden Plaatjies is dood weens ’n onwettige elektrisiteitsverbinding.  ~ Foto Verskaf

HOEKOM moet ons oor die corona-virus worry as die regering nog nooit geworry het oor die omstandighede waaronder ons moet bly nie?

Dít was die sentiment van menige begrafnisganger toe sowat 200 rouklaers Saterdag opgeruk het na die begrafnis van die negejarige Royden Plaatjies.

Royden is op 12 Maart doodgeskok terwyl hy en sy twee broers naby hulle ouerhuis gespeel het.

Skuld

Die gesin woon in die Riemvasmaak-plakkerskamp in Bethelsdorp. Onwettige krag connections kry die skuld vir sy dood.

Sy begrafnis is gehou by die Laerskool Soutpan in Arcadia. Aanvanklik het sy familie net vir 50 begrafnisgangers voorsiening gemaak. Hulle wou gehoor gee aan pres. Cyril Ramaphosa se maatreël dat groot byeenkomste gestaak word om die verspreiding van die corona-virus te bekamp.

Mourners het hulle nie hieraan gesteur nie. Hulle het eerder die regering veroordeel en gesê daar word te veel aandag aan die virus geskenk en te min aan die omstandighede van die mense in Riemvasmaak.

Die area behoort sedert 2013 aan die Fernwood Park-gemeenskapstrust. Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit sê hy kan dit slegs ontwikkel wanneer hy eienaarskap van die grond kry.

Sowat 500 huishoudings hier moet 4 gemeenskaplike krane gebruik.

Drie van die vier is stukkend.

Vullis word nie verwyder nie en inwoners gebruik steeds die emmerstelsel.

Wanneer dit reën en die nabygeleë Chatty-rivier sy walle oorstroom, styg die risiko vir verdrinking.

Royden se ouers, Raldo Bell en Sharon Plaatjies, het gesukkel om die trane terug te hou toe verskeie sprekers aangevoer het dis die omstandighede in die gemeenskap wat hulle van ’n kind beroof het.

Julian Erasmus, hoof van die Laerskool Soutpan, het nie doekies omgedraai nie.

“Ons leef in ’n society waar die veiligheid van kinders nie ernstig opgevat word nie.

“Ons panic nou oor die corona-virus, wat maar nounet in ons land aangekom het, maar ons kinders word daagliks blootgestel aan dinge wat baie gevaarliker is as die corona-virus.

“Hoekom tref ons nie voorkomende maatreëls wat in belang van ons kinders is nie?” wou Erasmus weet.

Thembela Makabane, wat met Royden na die hospitaal gejaag het, sê hy het in haar arms gesterf. “Hy het ’n pynlike dood gesterf weens die nalatigheid van ons munisipale amptenare, insluitend ons wyksraadslid.

“Nie ’n enkele beampte het opgedaag om Royden se begrafnis by te woon nie.

“Dit wys duidelik dat hulle nie omgee nie.

Brand

“Maar Royden se dood sal nie verniet wees nie.

“Ons sal terugkeer na die strate en tyres brand,” het Makabane vasberade gesê.

Die wyksraadslid, Johny Arends, het gesê hy kon nie Royden se begrafnis bywoon nie omdat hy as diaken na ’n vergadering geroep is waar hulle dominee die voorkomende maatreëls teen die corona-virus wou bespreek.

“Maar ek was voor en ná Royden se begrafnis by sy familie om my medelye te betoon.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters