8 dae gelede
Gryp nóú in, versoek DA
Mongameli Bobani  ~ Foto Verskaf

DAAR is net een manier om die gemors in die Nelson Mandelabaai-metro op te los – plaas dit onder administrasie en hou ’n nuwe plaas­like verkiesing.

Gister het Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse DA-leier, op ’n nuuskonferensie gesê dié party se metroraadslede is gewillig om hulle poste prys te gee ter wille van die mense van die stad.

Vrees

Die gemors het Maandag voortgesleep toe nóg ’n raadsvergadering platgeval het omdat die raadslede net nie kon saamstem oor enigiets nie.

Bhanga meen die metro het nou ’n “gangster state” geword, waar mense deur vrees regeer word onder die burgemeester, Mongameli Bobani (UDM).

Hy het Bobani selfs met Pablo Escobar, ’n uiters berugte Colombiaanse dwelm­baas, vergelyk.

Volgens Bhanga laat die blatante korrupsie, wanbestuur en die ineenstorting van dienslewering en regering die DA geen alternatief as om hom tot pres. Cyril Rama­­phosa en die provinsiale en nasionale regering te wend om kragtens artikel 139 van die Grondwet in te gryp nie.

Bhanga sê die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, en die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) het verlede week bevestig dat hulle ’n formele kennisgewing uitgereik het aan die metro rakende artikel 139.

“Artikel 139 in sy verskeie vorme maak voorsiening vir die provinsiale regering om die administrasie van ’n plaaslike regering oor te neem en in uiterste gevalle ’n wanfunksionele raad te ontbind.”

Die Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Xolile Nqatha, het ook ’n kennisgewing uitgereik oor hulle voorneme om artikel 139 te implementeer.

Die DA doen ’n beroep op die provinsiale regering om, met die bystand van die nasionale Cogta-departement, onmiddellik daarmee voort te gaan.

“Die DA glo dit is slegs deur die ontbinding van die raad en die hou van ’n verkiesing dat die metro gered kan word.

“As die sterkste opposisieparty in die raad tans, is dit ons rol om al die nodige stappe te doen om seker te maak dienste word aan die mense van die stad gelewer.”

Vicky Knoetze, die DA se Oos-Kaapse skaduminister van Cogta, sê artikel 139 moet toegepas word, want die raad slaag nie daarin om sy uitvoerende verpligtinge na te kom nie.

Herroep

Sy sê daar is goeie redes hiervoor.

Die raad sloer byvoorbeeld al maande met die aanstelling van verskeie uitvoerende direkteure en ’n finansiële hoofbeampte.

“Voorts het die nasionale tesourie besluit om sowat R3 miljard se IPTS (geïntegreerde openbare vervoerstelsel)-geld te herroep.

“Dit maak 27% van ons bedryfsbegroting uit.

“Die onregmatige en vrugtelose uitgawes in dié metro is die hoogste in Suid-Afrika se geskiedenis.

“Die huidige stadsbestuurder (Nobuntu Mgogoshe) is ook nie gekwalifiseerd nie.

“Die metro het ook misluk daarin om sy kapitaalbegroting te spandeer,” sê Knoetze.

“Die DA gaan nie stilbly nie. Ons koukuslede is bereid om hulle poste op te offer vir die stad,” voeg rdl. Athol Trollip, DA-koukusleier in die metro, by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters