16 dae gelede
Groep march teen geweld
TRANE VLOEI: Shelmadene Saffier kon nie haar trane keer nie.  ~ Theo Jeptha

’N HANDVOL vroue en mans het gister aan ’n vreedsame march in Timothy Valley deelgeneem.

Dít was om hul support te toon aan die familie van Ruwaan Oormeyer-Johnson (16) wat Maandagaand by sy ouerhuis doodgeskiet is.

Sy 22-jarige oom is in dieselfde voorval gewond.

Ruwaan was ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Cillié.

Hy is in die kop en elders in sy lyf geskiet.

Die vroue het vanaf Mpukostraat tot by Ruwaan se ouma Roseline se huis gestap waar sy ma, Roshaan, ook tans is.

Pyn

Denodene Jacobs sê sy het die nuus oor die optog in die sosiale media aangekondig en by word of mouth laat versprei.

Sy het aan Son gesê die doel van die optog was om vir Ruwaan se ma te wys sy is nie alleen nie en dat hulle haar pyn voel.

Volgens haar het die optog ook gegaan oor bewusmaking van geweld teen vroue en kinders.

Soos die dames gestap het tot by Ruwaan se ouma se huis, het hulle koortjies gesing. Toe hulle daar aankom, het ene Amanda Fisher die familie bemoedig.

Die vroue het vooraf onderneem om elkeen tydens die march iets wits as ’n simbool van vrede­ te dra.

MAAK STEM DIK: Inwoners hou plakkate met boodskappe omhoog om hul misnoeë duidelik te maak. Foto: Theo Jeptha

Jacobs sê sy is self ’n ma van drie kinders.

“Ek voel baie seer, want dit kon met my kind gebeur het. Die gemeenskap is geruk. Hy was ’n baie voorbeeldige seun gewees.”

Eddie Harker, wykraadslid, sê die gemeenskap van Timothy Valley, veral die vroue, het nou al genoeg gehad van die voortslepende geweld in hul areas.

Regering

“Hier in wyk 38 sit ons met Covid-19 en ’n geweld-krisis. Hierdie situasie sal alleenlik gewen word as daar hande gevat word.”

Hy sê die provinsiale en nasionale regering moet hul kant bring deur meer veiligheidsplanne in werking te stel.

“Genoeg is genoeg en die regering moet verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vat vir al die geweld wat plaasvind.”

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê niemand is in dié stadium al in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters