12 dae gelede
Groep kids in dorp ontvoer
Gered: ’n Trok wat op pad was Baai toe, is onlangs vol Malawiese kinders gevind. Die drywer verskyn binnekort in die hof. Foto ter illustrasie:c-fam.org  ~ 

VIER kinders is Maandag in Whittlesea ontvoer.

Geen inligting oor die omstandighede van die ontvoering of die kinders se ouderdom is bekend nie.

Verskeie voorvalle van kinderontvoering is onlangs in die Oos-Kaap aangemeld.

Die premier, Phumulo Masualle, waarsku ouers om te alle tye te weet waar hulle kinders is.

Masualle se woordvoerder, Sizwe Kupelo, het bevestig die polisie ondersoek ’n saak nadat kinders onlangs gevind is op ’n trok naby Nanaga, op pad na Port Elizabeth.

“Dié waarskuwing kom nadat ’n trok gevind is met kinders tussen die ouderdom van 14 en 21.

“Die kinders is intussen geneem na plekke van veiligheid,” sê Kupelo.

Dié trok het 21 Malawiese kinders vervoer wat na die land gesmokkel is. Oos-Kaapse verkeersbeamptes het hulle gered.

Kapt. Anelisa Feni, Valke-woordvoerder, sê die drywer sal Donderdag in die Alexandria-landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie nadat hy die beamptes probeer omkoop het.

Immigrante

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê egter die trok wat gestop is, is nie ’n geval van kinderhandel nie.

“ ’n Klein trok, wat onwettige immigrante vervoer het, is gestop. Die Valke hanteer die saak.”

Op 9 Augustus, ’n paar dae na dié voorval, het Mzukisi Solani, provinsiale woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, die voorval beskryf as die grootste mensehandel-bust die laaste paar jaar.

Onskuldig

Solani het gesê dié 20 seuns en ’n meisie het geen wettige dokumente op hulle gehad nie en kan net hulle land se tale praat.

Hy het bygevoeg die drywer van die trok pleit onskuldig. Die ou het aan die polisie vertel hy is aangesê om die kinders in Korsten in die Baaise noordelike gebiede af te laai.

Solani het destyds gesê die Valke ondersoek die moontlikheid dat dié kinders die slagoffers is van ’n groter internasionale kinderhandelsindikaat.

Solani het ook verduidelik sy departement, die Malawiese ambassade in Pretoria en die departement van justisie is besig met ’n plan om die kinders terug te neem na Malawi.

Hulle is tans in die sorg van die departement van maatskaplike ontwikkeling in safe houses in Oos-Londen en Port Elizabeth.

Experts in Afrika-tale is ingebring om as inter­preters op te tree.

Lede van die Islamitiese geloof is vir advies gevra omdat die kinders dié geloof beoefen.

“Dit is baie belangrik om seker te maak die kinders woon in soortgelyke toestande as in hulle eie land.

“Hulle moet hulle geloof beoefen en hulle eie kos eet, want frustrasies kan trauma trigger,” het Solani bygevoeg.

Kupelo het gesê: “Kinderontvoering is ’n ernstige bekommernis in die provinsie. Dit is ’n bedreiging.

“Ons wil ouers waarsku om waaksaam te wees en om nie hulle kinders alleen malls of winkel toe te stuur nie. Dieselfde geld vir kinders wat wag vir skool­vervoer.”

Kupelo het bygevoeg die provinsiale owerhede werk nou saam met wetstoepassers om die sake te ondersoek.

“In sommige gevalle het familielede glo met besigheidsmense saamgesweer om hulle kinders te verruil vir kruideniersware.

Kerke

“Die premier het dit as ’n ernstige bedreiging vir kinders se veiligheid geïdentifiseer.”

Hy het ook gesê selfs kerke word as oplaai- en aflaaipunte gebruik.

Om ontvoerings te stop, het Ma­sualle vir provinsiale departemente, veral dié van maatskaplike ontwikkeling, gesê om ’n massiewe bewusmakingsveldtog te begin.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters