2 maande gelede
Grapperige kid gegroet
Leawin MillerFOTO VERSKAF  ~ 

TRANE het gevloei by klein Leawin Miller (12) se begrafnis dié naweek.

’n Week nadat Leawin doodgeskiet is in ’n huis in Bethelsdorp Uitbreiding 32 in die noordelike gebiede, is hy Saterdag ter ruste gelê.

Skoolmaats, gemeenskaps­lede, vriende en familie het Saterdag bymekaar gekom by Leawin se familiehuis in Fairy Bellweg.

Hartverskeurende snikke het die sitkamer gevul terwyl geliefdes vir oulaas na Leawin­ se gesiggie gekyk het.

Leawin is gebore op 20 Junie 2006 en het sy laaste asem op 2 Februarie 2019 uitgeblaas.

Hy was versot op mieliepap. Almal wat Leawin geken het, onthou hom as ’n kind wat enige tyd winkel toe gestuur kon word, al moes hy sewe keer op ’n dag loop.

emosioneel: Leawin Miller se klasmaats kon nie hul trane terughou in sy roudiens Saterdag nie.

Hy word deur sy maats onthou as ’n grapperige en vredeliewende seun wat baie gepraat het en nie skaam was nie. Hulle sê hy was ’n goeie voorbeeld vir ander kinders.

Leawin was volgens sy oupa, George Miller, ’n uitstekende tekenaar wat ’n business­ mind gehad het omdat hy sy tekeninge aan maats by die skool verkoop het. Leawin wou graag eendag ’n argitek word en het daarvan gehou om karre en huise te teken.

Rochelle Miller, Leawin se ma, glimlag toe sy onthou hoe passievol haar seun was: “Gee hom net ’n pen en papier, en hy’s gelukkig. As daar nie papier is nie, sou hy sommer op homself teken.

“Daar was nie ’n dag wat verbygegaan het dat hy nie iets geteken het nie.”

Aaron Finnis, Leawin se pa, gaan sy seun se klop aan die voordeur mis.

Losgebrand

“Hy het elke aand aan my deur kom klop om te vra vir ’n R5 om chips mee te koop. Dan sou hy nog terugkom om my te wys wat hy gekoop het.”

trane: Aaron Finnis en Rochelle Miller treur oor hul seun, Leawin Miller, se dood. Foto’s: theo jeptha

Begrafnisgangers het ná die roudiens in die Life Centre­ Memorial Church vertrek na die Jacksonville-begraafplaas om Leawin finaal te groet.

  • Op 2 Februarie om 12:40 het ’n onbekende gewapende man na bewering by ’n huis in Barberryweg ingekom en losgebrand op die vyf mense in die vertrek voordat hy spore gemaak het.

Drie van die slagoffers, onder wie ’n 11-jarige kind, is beseer. Leawin het verskeie koeëlwonde opgedoen en is op die toneel oorlede.

Die vyfde persoon (19) is nie gewond nie.

Volgens kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, word ’n saak van moord en vier sake van poging tot moord ondersoek.

Daar is nog geen arrestasies gemaak nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters