Verlede maand
G’n uitspraak 'At ôl' in hof
reg vir aksie: ’n Stampvol hooggeregshof het nie dié raadslede afgeskrik nie. Voor is Bicks Ndoni (links), en Mongameli Bobani (regs). Agter hulle sit Marlon Daniels (met die foon) en Andile Lungisa (middel) en agter hulle sit Athol Trollip (links) en Nqaba Bhanga, DA-leier in die provinsie (regs). Foto’s: deon ferreira  ~ 

WIE is nou eintlik die mayor in die Baai? Selfs die regter is nie seker nie.

Regter Johann Huisamen het gister uitspraak voorbehou oor wie die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se regmatige mayor is.

Hof 8 was propvol en mense het tot op die vloer gesit.

Honderde ondersteuners van die DA- en ANC-koalisie het byna mekaar bygedam buite die hof.

Nadat die polisie ingegryp het, het elke groep in sy eie afgebakende deel van die hof gestaan en sing.

Lede van die DA-koalisie sluit in die ACDP en Cope.

Die ANC-koalisie sluit die EFF, AIC, UF en UDM in. Laasgenoemde is tans aan die bewind in die Metro.

Die voormalige burgemeester, Athol Trollip, is op 27 Augustus met ’n mosie van wantroue uit die stoel geskop en Bobani het sy plek ingeneem.

’n Nuwe speaker, hoofsweep en onderburgemeester is ook gekies.

Entjie: Athol Trollip rook buite die hof tydens ’n verdaging.
positief: Mongameli Bobani is vol vertroue oor hul teenaansoek in die hof.

Die meeste DA-raadslede het teen dié tyd al uitgeloop.

Maar ’n voormalige DA-raadslid, Mbulelo Man­yati, het daardie dag in die raadsaal agtergebly.

Adv. Olav Harald Ronaa­sen, SC, wat die DA-koalisie verteenwoordig, voer aan die raadsvergadering was onwettig omdat die raadslede nie almal geweet het dit gaan voort nie.

Ronaasen het beklemtoon die stadsbestuurder, Johann Mettler, het gesê die vergadering het nie ’n kworum bereik nie.

Die ANC-koalisie se lawters meen Manyati was die 27ste nog ’n raadslid en daarom wás daar ’n kworum.

Oor die beskikbaarheid van Mettler sê adv. Dali Mpofu, SC, hy het homself onbeskikbaar gemaak vir die voortgesette raadsvergadering, al was hy in sy kantoor.

Die hoofsweep, Bicks Ndoni (ANC), sê in sy affidavit hy het Mettler gebel en hom gesmeek om die vergadering by te woon.

Ruk op: Ondersteuners van onder meer die ANC, UDM en EFF sing en dans buite die Baaise hooggeregshof.
getrou: DA-ondersteuners staan bankvas agter Athol Trollip.

Trollip sê: “Die mense wat hulle nou voordoen as die regering, het nie ’n mandaat van die kiesers nie. Ons glo wat plaasgevind het, is onwettig.”

Hy sê as die hof teen die DA beslis, sal die party weer as die opposisie voortveg.

Onttrek

Intussen sê Bobani buite die hof hoewel die hofsaak belangrik is, is dienslewering belangriker.

En Marlon Daniels van die PA het hom onttrek uit die hofaansoek – en ook uit die DA-koalisie.

Ná die vergadering wat die DA Woensdag met sy koalisievennote belê het, sê Dan­iels: “Die Patriotic Alliance het agteroor gesit om te kyk wat die DA doen.

“Ek het vir hulle gesê: ‘Julle wil nie regkom nie. In die tyd met julle rug teen die muur is julle nog steeds so donders arrogant.’ Alles gaan oor ‘Save Athol Trollip’.

“Ek het vir hulle gesê daar is nie ’n toekoms saam met hulle nie, want alles gaan oor hulle,” sê Daniels.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters