5 maande gelede
‘Gesloer met lyk gevaarlik’
onreg? Inwoners dink dit het te lank gevat voordat John Arries se oorskot weggevat is.Foto’s: theo jeptha  ~ 

INWONERS van die informele nedersetting McCarthy in Uitenhage is die dinges in omdat ’n man se lyk volgens hulle agt uur in sy shack gelê het voordat die forensics hom daar uitgedra het.

Die cops sê egter hulle het gesukkel om die oorledene se familie op te spoor.

Die gemeenskap van McCarthy sê hulle is disgusted deur die “swak diens” en die feit dat John Arries se lyk so lank daar gelê het, het boonop ’n gesondheids­risiko ingehou.

’n Inwoner wat anoniem wil bly, sê: “John het Maandag ’n skielike dood gesterf.

“Daai oggend het ons self gaan ondersoek instel.

“Dit was omtrent sewe-uur die oggend. Hy het bors­probleme gehad en nie kliniek geloop nie. So, ons vermoed dis dít.

“Ek het toe in sy shack gegaan en gesien hoe lê die lyk daar. Ek het aan niks geraak nie, want ek het nie handskoene gehad nie.

“Ek het met die Kamesh-polisie in verbinding getree en tien minute later was hulle op die toneel.

“Die ambulans was ’n halfuur later op die toneel en hulle het bevestig dat hy dood is.”

Vriende van Arries sê hy was siek en hulle sou hom die dag van sy dood na die naaste kliniek geneem het.

Florence Brown, ’n vriendin van Arries, sê: “Hy was baie siek, maar het nie vir ons gesê wat hom makeer nie. Hy het maar so by ons geslaap en ons het aanhoudend vir hom gesê: ‘Gaan clinic toe.’

“Hy het dan net gesê hy ‘sal môre gaan’.

“Saterdagaand het hy nog by ons kom sit en lekker gesels.

“Toe ek weer hoor, is hy oorlede.”

Besorgde inwoners het gistermiddag ná vieruur nog op die toneel rondgestaan.

Hulle was daar totdat Arries se lyk eindelik uitgedra en in die forensiese voertuig gelaai is.

Die polisie het gesukkel om Arries se naasbestaandes op te spoor sodat hulle toestemming kon kry om die liggaam te verwyder.

Teen 15:00 het hulle nog niks terugvoer van familie gekry nie en het hulle voortgegaan Arries na die staat se morgue toe geneem.

Inwoners het gesê sy familie is in De Aar.

Een van die in­woners vertel: “Ons is ongelukkig omdat die liggaam so lank daar gelê het.

“Omdat die oom siek was, hou dit ’n gesondheidsgevaar in vir dié wat naby hom woon.”

Kapt. Gerda Swart, ’n woordvoerder van die polisie, sê die aanvanklike verslag wat deurgegee is, dui daarop dat Arries aan natuurlike oorsake oorlede is.

“Toe die begrafnisondernemer by die woning aankom, het dié die polisie versoek om uit te kom.

“Die Kamesh-polisie is omstreeks 15:00 verwittig van die dood en ’n dossier vir ’n geregtelike doods­ondersoek is aangelê.

“Die forensiese personeel was teen 16:00 daar om die liggaam te verwyder.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters