9 maande gelede
Gemeenskap groet klein Ashwin
draers: Geliefdes sê Saterdag vir oulaas koebaai aan Ashwin Moses. Foto’s: theo jeptha  ~ 

VOLWASSENES en kinders het openlik gehuil toe hulle die vermoorde Ashwin Moses (3) finaal moes groet.

Maar dié geliefde seun sal altyd in sy naastes se harte voortleef.

Ashwin se roudiens is Saterdag gehou by sy oupa Neil Moses se huis in Chatty 11 in die Baaise noordelike gebiede – waar hy ook tot en met sy dood gewoon het.

Ashwin is op 1 Desember dood gevind in die bosse by Chatty 11, sowat 1 km vanaf dié huis.

Hy is vermoedelik deur Lucricia Connelley (29), sy stiefouma, verwurg.

Sowat ’n maand voor Ashwin se dood was Neil in rou gedompel oor sy dogter ­Nadia (23), Ashwin se ma, se dood in ’n skietvoorval.

Nou rus die familie se harte effens met die wete dat ma en seun herenig sal word in die hemel.

Neil sê stil-stil by die begrafnis: “Ek is só moeg. Ek kan nie slaap nie.

“Elke 10 minute sal ek weer wakker word. Ek het nie woorde om te beskryf hoe ek vandag voel nie.”

Trane loop by sy wange af soos hy toekyk hoe ander familielede vir oulaas na Ashwin se gesiggie kyk voordat hulle by die huis uitstap.

Sy klein wit kissie was versier met geel en wit blomme en ’n pienk lint.

Past. Godfrey Grootboom het die diens behartig en in God se naam gevra dat daar ’n verandering in Chatty 11 sal plaasvind.

“Laat ons ouers verantwoordelikheid vat vir ons kinders – jou kind is my kind. Moet nooit iets sleg sê oor jou kind of ’n hand vir hom lig nie, want ’n kind is ’n engel en ’n gawe van God.”

Al die ouers en kinders het hul hande in die lug gesteek om aan te dui dat hulle ook eendag vir Ashwin in die hemel sal wil sien.

Grootboom het ook vir die kinders gebid en gevra dat hulle beskerm sal word teen geweld. Die hele jaart was vol gemeenskaps­lede wat wou tot siens sê.

Connelley het reeds in die Baaise landdroshof verskyn op aanklag van moord en sal weer Donderdag in die hof wees vir ’n formele borgtogaansoek.

Sy het aanvanklik skuldig gepleit, maar het verlede week met haar laaste verskyning aangedui sy gaan onskuldig pleit.

Neil sê hy gaan daar wees.

“Dis moeilik, maar ek gaan Donderdag hof toe gaan.

“As ek kan, sal ek vir haar wil vra hoekom en waarom. Vir nou wil ek net rus kry.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters