10 dae gelede
Geheue ná vyf jaar vol gate
Sinethemba MfihloFoto’s: deon ferreira  ~ 

TOE hy hoor sy pa vertel vir sy ma die gemeenskap verdink hom en sy pa van moord, het hy nie note gevat daarvan nie.

Só het die moordbeskuldigde Jean-Claude Uithaler gister in die Baaise hoog­geregshof getuig.

Uithaler (25) word saam met Khawulelani Gqunta en Sinethemba Mfihlo (albei 19) verdink van die marteldood van Quinton David Wil­liams op 14 Junie 2014.

Williams was ’n bewaarder by die St. Albans-gevangenis.

Opgestaan

Uithaler het getuig nadat sy pa sy ma vertel het die gemeenskap dink hy en sy pa het die moord gepleeg, het sy pa gesê hulle moet die Maandag polisiestasie toe gaan om uit te vind waarvan die mense praat.

Volgens Uithaler het hy nie die aantyging waarvan sy pa gepraat het ernstig opgeneem nie.

Hy het gister gesê hy kan nie onthou hoekom hy dit nie daardie tyd serious opgevat het nie, want dit is nou al byna vyf jaar gelede.

Ná sy pa en ma se gesprek het Uithaler opgestaan, hom gewas en na ’n vriend toe gegaan.

Uithaler het getuig hy kan nie onthou of hy met sy pa oor die bewerings gepraat het tussen waar sy pa sy ma die Saterdag daarvan vertel het totdat hy (Uithaler) die Maandag in hegtenis geneem is nie.

Hy het gesê hy kan ook nie onthou of hy met sy ma oor die aantygings gesels het nie.

Volgens Uithaler kan hy ook nie onthou hoe laat sy pa die aand van die moord teruggekom het huis toe nie.

Hy het gesê in daardie stadium het hy en sy meisie in die kamer gelê.

Volgens Uithaler het sy girlfriend saam met hom by sy ouers gewoon.

Hy het aangevoer hy kan nie onthou wanneer hy en hierdie girlfriend hulle verhouding beëindig het nie.

Volgens Uithaler woon die meisie nie meer by sy ma-hulle nie; sy woon in Cookhouse.

Hy het getuig toe hy die Maandag in hegtenis geneem is, het die meisie nog by sy ouers gewoon.

Volgens Uithaler het hy en sy ’n seun saam.

Hy het getuig sy is terug Cookhouse toe nadat sy aan hulle kind die lewe geskenk het.

Volgens Uithaler het hy tot en met sy inhegtenisneming by AP Bricks in Motherwell gewerk.

Uithaler het gesê hy kan nie onthou wat hy die aand van die moord aangehad het nie.

Hy het dié aand op pad terug huis toe by Zola’s Tavern gekuier.

Hy het ook gesê hy kan nie onthou of hy ’n sweetpaktop met ’n hoodie en tracksuit-broek met wit strepe gedra het nie.

Hierop het adv. Garth Baartman, staatsaanklaer, vir hom gesê dis wat die staatsgetuie beweer Uit­haler toe aangehad het.

Volgens Uithaler is daar kringtelevisiekameras in Zola’s Tavern. Hy het gesê die hof kan daar gaan kyk wat hy die betrokke aand gedra het.

Maar toe switch hy ewe om: “As my ma kom getuig wat ek aangehad het, sal ek onthou.”

Die saak dien voor regter Irma Schoeman.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters