14 dae gelede
Geabba ná ’n leeftyd agter rug
SWAAR: Juden Botha, ’n rugbyspeler, voel hoe swaar Francis Limson aan haar seun gedra het.  ~ Theo Jeptha

IN DIE onsekere tye van Covid-19 tree daar tog nog engele na vore.

Francis Limson van Schauder­ville het 13 jaar lank met ’n groot gesukkel haar verstandelik en liggaamlik gestremde seun op haar rug rondgedra.

Limson (44) kan nou egter ’n bietjie asem skep nadat ’n barmhartige Samaritaan van Harlequins Legends ’n rolstoel aan die 13-jarige Jermaine Limson geskenk het.

Limson sê aan Son Jermaine is gestremd nadat hy by geboorte te min suurstof gekry het.

Volgens haar het dit sy brein geaffekteer en sy spiere het begin verslap.

Sy sê as gevolg van Jer­maine se toestand kan hy nie loop nie. Dis waarom sy hom soveel jare op haar rug rondgedra het. Hy kan ook nie praat nie.

Volgens Limson was dit baie uitputtend om haar seun op haar rug rond te dra, want hy het natuurlik ál swaarder geword.

Sy sê dit het ook baie strain op haar rug gesit.

Volgens haar is haar rug baiekeer seer.

Met ’n glimlag sê sy: “Hy is amper so groot soos ek.”

Volgens Limson is die rolstoel geskenk nadat ’n vriend van haar Legends in April gekontak en hulle van die seun vertel het.

Dié week het Bowen de Vos van Harlequins Legends die rolstoel namens sy LB de Vos Foundation, aan Jermaine kom oorhandig.

Volgens Limson is Jermaine baie opgewonde oor sy nuwe rolstoel. Hy wil nou die hele tyd net buite wees.

Sy sê terwyl die land nog onder die lockdown is, sal sy Jermaine net in die jaart in sy rolstoel rondstoot.

Volgens haar is sy net so opgewonde oor die rolstoel omdat dit ’n groot hulp is.

Sy sê ná die lockdown sal sy enige plek met Jermaine kan gaan.

BAIE HAPPY: Jermaine Francis (middel) is in die wolke. Hier is hy met sy ma, Francis (links, en Bowen de Vos. Foto: Charles Pullen

Limson sê destyds was daar ’n vrou wat na Jer­maine omgesien het terwyl sy in die werk was.

Sy sê sy het die vrou laat gaan omdat die vrou AllPay-tyd diep in die bottel gekyk en Jermaine in die proses neglect het.

Volgens Limson het sy ses jaar gelede uit haar werk bedank om self na Jermaine om te sien. “My kind is baie belangrik vir my.”

Benewens Jermaine het Limson ’n 24-jarige dogter.

De Vos sê hy het van Jermaine se dilemma gehoor terwyl die Legends onlangs besig was om ’n huis in Windvogel in die noordelike areas op te knap.

Blydskap

Hy sê een van die spelers het hom vertel van die seun wat deur sy ma rondgedra moet word.

Volgens hom is dit tóé dat hy die rolstoel via sy stigting bekom het.

De Vos sê hy het ’n nuwe soort blydskap ervaar toe hy die rolstoel oorhandig het, want Jermaine het gestraal van opgewondenheid oor die stoel.

“Dit bring trane in ’n mens se oë wanneer jy sien jy kan iets positiefs doen in iemand se lewe.

“Dit was vir my ’n emosionele oomblik. Hy was baie happy.

“Dit was iets buitengewoons om te aanskou.”

Volgens De Vos gaan hy beslis opvolgwerk in dié verband doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters