2 maande gelede
G’dale 1ste plek onwelkom
geweld: Die misdaadstatistieke wat gister uitgereik is, skets ’n donker prentjie.Foto ter illustrasie: andré damons  ~ 

GELVANDALE in die Baai is die polisiestasie waar die meeste sake van poging tot moord in die land aangemeld word.

Nog twee Baaise polisiekantore, Bethelsdorp (vierde plek) en KwaZakhele (negende­ plek), lê onder die top-tien stasies in die land wat betref sake van poging tot moord.

Dít luidens die jongste misdaadstatisieke vir die jaar 2017-’18 wat gister deur die nasionale polisieminister, Bheki Cele, bekend gemaak is.

Die Bethelsdorp-polisiestasie feature ook in die 13de plek onder die land se stasies waar die meeste moorde aangemeld word.

Altesame 127 moorde is oor dié tyd in die Bethelsdorp-area (8,5% op) gepleeg.

In Gelvandale staan dié syfer op 67 (8,2% af), Mountweg op 6 (50% af), Uitenhage op 9 (50% op) en Kamesh op 29 (61,1% op).

Bheki Cele

Altesaam 3 815 moorde is in die Oos-Kaap gepleeg en 20 336 oor die hele land.

Verder staan Gelvandale se aantal pogings tot moord op 265 – die meeste in die hele land en 17,8% op van die vorige jaar.

Bethelsdorp se syfer is 201 (51,1% op), Mountweg 16 (45,5% op), Uitenhage 45 (23% af) en Kamesh 12 (100% op).

Altesaam 40 035 verkragtings is in die land aangemeld, waarvan 6 821 in die Oos-Kaap gebeur het.

In Bethelsdorp is 136 (19% op) verkragtings aangemeld, in Gelvandale 63 (34% op), Mountweg 31 (24% op), Uitenhage 32 (3% af) en Kamesh­ 49 (27,9% af).

Aangemelde sake van seksuele aanranding het ook vermeerder in die Northerns. In Bethelsdorp is 28 gevalle aangemeld teenoor 12 in die vorige jaar (133% op).

In Gelvandale staan die syfer vir die afgelope jaar op 19 teenoor 14 die vorige jaar (35% op). Huisrooftogte in Bethelsdorp het ook drasties vermeerder: van 58 in die 2016-’17-jaar tot 112 in die 2017-’18-jaar.

In Bethelsdorp was daar in dié tyd 156 sake van onwettige­ besit van vuurwapens en ammunisie, teenoor 110 die vorige jaar.

Dwelmverwante

In Gelvandale was die syfer in 2017-’18 op 70 teenoor 98 die vorige jaar.

Dwelmverwante misdade het ook toegeneem.

In 2016-’17 is 390 gevalle in Bethelsdorp aangemeld­, teenoor 471 die afgelope jaar.

In Gelvandale is 581 gevalle die afgelope­ jaar aangemeld, in Mountweg 554 en in Uitenhage 390.

In Kamesh het dwelmverwante misdrywe verminder van 888 in die vorige jaar tot 685 die afgelope jaar.

Bobby Stevenson

Bobby Stevenson, DA-woordvoerder oor veiligheid, sê die statistieke wys dat die bloedige golf van gewelddadige misdrywe steeds oor die Oos-Kaap vloei.

“Moord het met 5,2% gestyg. Dit beteken dat meer as tien mense elke dag in die provinsie vermoor word.

“Poging tot moord is ook op met 5,8%, seksuele aanranding met 0,5%, huisrooftogte met 0,6%, sakerooftogte met 1,1% en hijackings met 4,6%.”

Oor die Gelvandale- en Bethelsdorp-stasie se plek onder die top-vyf stasies wat poging tot moord betref, sê Stevenson: “Dit is weer ’n bewys van die voortslepende bendegeweld en die groot nood vir nog ’n po­li­siekantoor­ in die Bethelsdorp-gebied.” Volgens Stevenson is dit duidelik dat die polisie ’n gebrek aan hulpbronne, opleiding­ en personeel het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters