16 dae gelede
Gangsters laai en looi in lockdown
sitting ducks: Inwoners van Smartie Town en Aloes Valley (INLAS) leef in vrees weens die gangsters se skietery oor en weer.Foto’s: charles pullen  ~ 

ASOF die Covid-19-pandemie nie erg genoeg is om mee te deal nie, moet inwoners van Missionvale boonop nog die bullets dodge wat dag en nag oor en weer vlieg.

Die voortslepende skietvoorvalle in Missionvale het die plaaslike wyksraadslid, Teslin Booysen, geen ander keuse gelaat as om ’n skrywe te rig aan die DA-leier in die Oos-Kaapse wetgewer, Bobby Stevenson, nie.

In die brief versoek Booysen onder meer opnuut dat die sektorpolisie toegelaat moet word om die polisie by te staan.

Volgens hom is die sektorpolisie hoogs effektief in die patrollering van strate en die targeting van hot spots in die gemeenskap.

Inwoners met wie Son die afgelope week gesels het, sê hulle soek die lede van die gemeenskapspolisiërings­forum (GPF) terug op straat.

Die inwoners, wat vir hulle eie veiligheid anoniem wil bly, beweer dis rival gangs van Aloes Valley en Smartie Town wat so oor en weer op mekaar skiet.

’n Ma van drie kinders sê die skote klap reeds van soggens vroeg tot saans en voeg by: “Dis soos cowboys and crooks.”

Sy sê wanneer sy 06:00 na die bushalte stap op pad werk toe, dan klap die skote al.

Die ma vertel toe sy een aand 19:00 van die werk af kom en by die busstop afklim, het ’n man haar gegroet.

Sy sê sekondes later toe skiet die einste man uit die bloute drie skote in die lug in.

Volgens haar was die skieter sowat 4 m weg van haar. Die ma sê sy was so bang, sy het in haar spore gevries en kon nie beweeg nie.

Afgegaan

Volgens haar het die mense in die omtes in verskillende rigtings gehardloop.

Sy sê ná daardie skote het nog 10 afgegaan.

Volgens haar is hulle bang omdat inwoners daar nie hieraan gewoond is nie.

Volgens die ma skiet die gangsters van Smartie Town vanuit die straat waar sy woon omdat die straat pikdonker is. Sy sê hulle leef heeltyd in vrees.

Volgens haar operate die drug-poste in die omgewing steeds. Sy smeek die owerhede om dit toe te maak.

Die ma sê die skieters gee ook nie om of daar mense in die straat is wanneer hulle skiet nie.

Volgens haar is die skietery nou met die nasionale lockdown nog erger.

Sy sê: “As ’n mens praat, dan is jy ’n target. Die CPF members moet in die strate kom patrolleer, dan sal dinge kalmer raak.

“Asseblief, ons het die CPF terug op straat nodig. Ek vrees elke dag vir my kinders se lewe.”

Nog ’n inwoner en ma van vyf kids sê die skietery is deesdae so erg, hulle sukkel om saans te slaap.

Sy sê verlede week omstreeks 01:00 het sy vyf skote hoor afgaan.

Toe hoor sy ’n vrou benoud om hulp roep en skree: “Ek het julle alles gegee wat julle gesoek het!

“Ek het vir julle kos gegee! Wat soek julle nog van my?”

Volgens die ma worry die skieters oor niemand nie.

Sy sê: “Ons kinders kan nie buite speel nie. Die bullets kan die kinders tref.”

Sy sê toe die CPF nog gepatrolleer het, het inwoners baie veilig gevoel.

Begin

“Ons soek die CPF terug op die pad. Noudat die sektor in huise gehou word, leef ons in vrees.”

Sy sê die skietery het begin sedert die lockdown, want die skieters weet die sektorlede sit tuis.

Volgens die ma vrees sy vir die lewens van haar en ander mense se kinders.

Nog ’n inwoner sê aan Son: “Iets leliks gaan nog hier gebeur.

“Die gangsterism groei in Smartie Town en Aloes Valley. Ons mense gaan seerkry.”

Hy sê die ander aand toe die skote ook so geklap het, het ’n vreesbevange antie ’n GPF-lid gebel vir hulp toe skollies in haar yard begin skiet het.

Volgens die inwoner was die lid se hande afgekap en hy kon maar net die polisie bel.

Die inwoner sê die inwoners wil hê die GPF-lede moet weer begin met patrolliewerk omdat dit ’n goeie ding sal wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters