10 maande gelede
Gangs rule die noorde
LT.KOL. MIKE GROBLER  ~ 

DAAR is 29 gangs en 1 000 bendelede in die Baaise noordelike gebiede.

Lt.kol. Mike Grobler van die provinsiale bende-ondersoekeenheid het gister by ’n crime summit gepraat wat in die Chatty-gemeenskapsaal aangebied is.

Dis hiér waar hy die harde realiteite vir die aanwesiges uitgelê het.

Grobler is in 2013 by die bende-eenheid aangestel.

Gangsterism val nou onder die provinsiale eenheid teen georganiseerde misdaad.

BRIG. ZOLANI XAWUKA

Grobler rapporteer aan die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Liziwe Ntshinga.

Die bende-eenheid bedien agt polisie-clusters, wat tot so ver as Humansdorp, Oos-Londen en Grahamstad strek. Dit beteken dat die gangsters na kleiner gebiede trek omdat hulle die heat van die polisie begin voel.

“Gangsterism het geen kleur nie en dit is nie net ’n Coloured probleem nie.

“Ja, dwelms is die gangsters se kontantvloei, maar hulle is ook by ander mis­dade betrokke, soos geldwassery, afpersing en prostitusie,” verduidelik Grobler.

Hy sê hy het uitgevind sekere gangsters gebruik hulle geld om in maatskappye te belê en dat hulle ook polities aktief word.

Hy voeg by die gangs regoor die land kommunikeer met mekaar, en selfs met internasionale bendes.

“Ons het vandat ek my by die gang unit aangesluit het, al baie suksesse behaal. Vanaf November 2013 het ons 1 326 bendelede in die noordelike gebiede gearresteer – vir moord, poging tot moord, dwelmhandel en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie. Tans het ons 1 054 dossiere oop wat te doen het met gangs,” sê hy.

Brig. Zolani Xawuka, bevelvoerder van die Bethelsdorp-polisiestasie, sê die polisie het ses benaderings wat hulle volg wanneer hulle teen gangsterism baklei.

“Die eerste een is die stille benadering. Dit sluit in die analise van die misdade en die modus operandi van die misdadigers.

“Die tweede benadering is ’n proaktiewe een waar ons veral gebruik maak van sigbare polisie,” sê Xawuka.

ondersoek: Die “hardebaard” lt.kol. Mike­ Grobler van die bende-eenheid werk op ’n misdaadtoneel in Helenvale.Foto’s: DEON FERREIRA

Hy verduidelik voorts dat die reaktiewe benadering handel oor die ondersoek van die moorde.

Die interdepartementele benadering betrek ander departemente soos dié van korrektiewe dienste en justisie.

“Die vyfde is die inter-NGO-benadering, waar NGO’s en ander gemeenskapsorganisasies betrokke raak.

“Die laaste pilaar is die gemeenskapsforum-benadering, waar die gemeenskapspolisiëringsforums en sektorpolisie in die gemeenskap werk,” sê Xawuka.

Daar was ook DA-raads­lede, lede van die publiek en metropolisie teenwoordig.

Die crime summit se fasi­liteerder is raadslid Pieter Hermaans.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters