10 dae gelede
Fokus is op taxi’s
propvol: Dié 16-sitplek-taxi is Vrydag in Chase-rylaan afgetrek – met 21 passasiers in.Foto’s: deon ferreira  ~ 

DRYWERS wat hulle taxi’s oorlaai, sal stewige boetes kry en in ernstige gevalle gearresteer word.

Sr.supt. Raquel Paulsen van die Nelson Mandelabaai-metropolisie sê hulle verskerp hulle fokus die afgelope drie weke wat taxi’s en oorlading betref.

Dit volg nadat hulle in die Baaise noordelike gebiede verskeie taxi’s afgetrek het wat volgeprop was met skoolkinders.

In een van die uiterste gevalle was daar 48 mense (insluitend die drywer) in ’n 16-sitplek-taxi.

Dié drywer (26) is op 18 Februarie 14:20 in Chase-rylaan in Algoapark gevang.

Nadat die passasiers getel is en die taxi geweeg is, is die drywer omstreeks 15:00 in hegtenis geneem.

Die metropolisie kyk nou elke dag uit vir oorlaaiers. Hulle hou selfs onaangekondigde padblokkades waarin hulle veral taxi’s aftrek.

Dan kyk hulle vir die bestuurder se rybewys, die voertuig se padwaardigheid en of die wettige aantal passasiers gelaai is.

Paulsen sê die metropolisie gaan na die gemeenskappe en skole om mense op te voed oor oorlading van taxi’s.

“Onthou, dié taxi’s is spesifiek gebou om ’n sekere aantal passasiers te vervoer.

“As daar meer as die getal in ’n taxi is, kan dit lei na die verlies van ledemate en lewens.

“Ons wil nie ’n ledemaat of ’n lewe verloor vir ’n ekstra R10 (taxi fare) nie.

“Hulle oortree die padvervoerwet en dis ook ’n kriminele oortreding

Operasie

“Daarom gaan ons ook die eienaars van taxi’s opvoed, want hulle het steeds ’n verantwoordelikheid,” sê Paulsen.

Vrydag het die metropolisie ’n operasie uitgevoer in Algoapark.

Hulle het weereens taxi’s op Chase-rylaan afgetrek in die omgewing van Young Park, omdat daar glo baie sulke gevalle op dié pad voorkom.

’n Drywer is afgetrek en beboet omdat daar 22 persone (insluitend die driver) in ’n 16-sitplek-taxi was. Hy is ’n boete van R1 800 opgelê.

Vroeër verlede week het ’n drywer van ’n oorlaaide taxi probeer wegjaag van die metropolisie, maar hy was toe in ’n ongeluk betrokke en van die kinders in die voertuig is lig beseer. Die drywer is toe beboet.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters