22 dae gelede
Elke bord skep ’n bietjie meer hoop
goeie doel: 4OurKidsPE se Whiedaad Fortuin (links), Chad Higgins en die res van die span verrig wondere onder die inwoners.  ~ 

WERP jou brood op die water, want ná vele dae sal jy dit terugkry.

Dít is die filosofie van ’n groep jong mense wat die organisasie 4OurKidsPE bedryf.

Hulle beywer hulle daarvoor om in die Northerns ’n verskil te maak deur hul tyd en energie op te offer om kinders te voed.

Veroneeq Breda, een van die lede van die groep, sê hul hart gaan uit na die kleintjies.

“Ons bedryf elke Dinsdag en Donderdag vanuit die Laerskool Astra ’n voedingskema.

“ ’n Organisasie in die Kaap het ’n ruim skenking aan ons gemaak.

“Dit stel ons in staat om ook een Sondag per maand ’n heerlike ete vir die kinders te maak.

“Dit is absoluut fantasties om ’n bord kos in ’n kind se hand te sit.”

Breda sê hulle is dankbaar vir die skoolhoof, Helma Boggenpoel, wat die skool aan hulle beskikbaar stel.

Boggenpoel sê op haar beurt dit is ’n great gevoel om deel te wees van die jong mense se veldtog.

“Die meeste van hulle is voormalige leerders van die skool,” vertel sy. “Hulle kook die kos self en werk as ’n span saam om dit uit te deel.”

Breda sê sy wil graag ’n beroep op die gemeenskap doen om op die een of ander manier ’n hand te kom bysit.

“Ek het hier skool geloop. My ma ook.

“Ons wil graag hê die skool moet ’n baken van hoop wees,” verduidelik sy.

Breda het ook ’n woord van dank en waardering uitgespreek teenoor die kerke in hul gemeenskap wat hulle reeds van hulp is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters