Verlede maand
‘Ek hoor vrou se hulpkrete’
Loop hof: Hierdie 32-jarige man het na bewering sy vrou verskeie kere verkrag.Foto: Theo Jeptha  ~ 

TOE sy gillend en kaal by sy woonstel aangekom het, het hy haar ’n handdoek gegee om haar te bedek.

So het Tshepo Matshaka gister in die Baaise hooggeregshof getuig in die rape-verhoor van ’n 32-jarige man van Zwide in die Baai wat na bewering sy vrou drie keer verkrag het.

Hy staan ook tereg op ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die beskuldigde se naam word weerhou om sy vrou se identiteit te beskerm.

Die beweerde voorval het op 30 Maart 2018 in Moth­erwell in die Baai gebeur.

Die klaagster het kort voor die beweerde voorval by ’n familielid gekuier toe die beskuldigde hom ook by hulle aangesluit het.

Kort nadat sy in een van die slaapkamers aan die slaap geraak het, het die beskuldigde haar na bewering wakker gemaak en gevra of hulle eerder by haar woonstel kan gaan slaap.

Sy is toe saam met hom na haar woonstel waar hy haar na bewering aangerand en drie keer verkrag het.

Matshaka, ’n buurman van die klaagster, het gesê dit was in die vroeë oggend-ure toe hy gille gehoor het.

Volgens hom het ’n vrou geskree: “Asseblief, kom help my!”

Matshaka het gesê hy het nie gaan ondersoek instel nie omdat hy onder die indruk was die vrou het met haar ou stry gekry.

Seks

Hy het verduidelik die vrou het ná die gille na sy woonstel gehardloop.

Volgens hom was sy kaal en het hy haar ’n handdoek gegee om haar mee te bedek.

Matshaka het getuig die vrou het hom vertel haar man het haar aangerand omdat hy seks met haar wou hê.

Hy het bygevoeg die klaagster het ’n krapmerk onder haar regteroog gehad.

Volgens Matshaka was sy girlfriend in daardie stadium nog steeds in die bed.

Hy het gesê hy is toe uit sy woonstel op soek na die man.

Volgens hom het hy afgesit na die klaagster se woonstel en net daar gaan inloer.

Matshaka het bygevoeg hy het hierna in die straat na die verdagte gaan soek, maar het hom nêrens opgespoor nie.

Hy het gesê hy weet nie of die klaagster in daardie stadium wel ’n ou gehad het nie.

Volgens hom woon hy al lank in daardie woonstel en het die klaagster maar kort voor die beweerde voorval by haar woonstel ingetrek.

Hy sê die inwoners van die woonstelblok het begin wakker word toe sy skree.

Een inwoner het ’n selfoon aan die vrou gegee om die cops te bel.

Die beskuldigde is uit op borgtog.

Die saak dien voor regter Bulelwa Pakati.

Zolile Ngqeza verteenwoordig die beskuldigde.

Adv. Velile Makasana kla aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters