3 jaar gelede
‘Eerste mense’ stap vir regte
loop: Benjamin Michaels en Chief Khoisan SA warm solank hul voete op vir vandag se lang staptog.Foto’s:deon ferreira  ~ 
doelwit: Chief Khoisan SA en Benjamin Michaels stap saam met ander Khoisan-mense van Port Elizabeth na Pretoria om ’n memorandum aan die regering te oorhandig.
loop: Benjamin Michaels en Chief Khoisan SA warm solank hul voete op vir vandag se lang staptog.Foto’s:deon ferreira

HULLE gaan meer as 1 000 km stap om te baklei vir hul reg as eerste mense in Suid-Afrika.

Die Khoi-Boesman Liberation Walkers van die Baai begin vandag hul lang staptog. Hulle mik om tussen 1 en 10 Desember in Pretoria aan te kom.

Wanneer hulle daar aankom, gaan hulle ’n memorandum aan die regering oorhandig, verkieslik aan pres. Jacob Zuma self.

Hulle sal dit doen onder die vaandel van die Dawid Stuurman- revolusionêre beweging.

“Ons gaan loop deur Colchester, Paterson, Middleton, Cookhouse, Middelburg en Noupoort. Daarna sal ons ’n draai maak in Colesberg, Springfontein, Trompsburg en Edenburg.

“By Bloemfontein gaan ons op die N1 bly en loop deur Ventersburg, Parys, Johannesburg en eindelik Pretoria se Uniegebou,” sê Chief Khoisan SA, een van die stappers.

“Die Khoisan-Boesman, Khoe en San, en sogenaamde kleurling-mense is die eerste nasie van Suid-Afrika en die ware eienaars van die land.

“Ons word al so lank gemarginaliseer en suffer van een regering na die volgende. Ons het op die punt gekom waar ons sê ‘genoeg is genoeg’.”

SA sê daar is vier eise op die memorandum wat oorhandig gaan word:

  • Die regering moet die Khoisan as eerstenasie-mense erken en dié status aan hulle gee.
  • Hulle wil hê die taal Khoekhoe-khoewaad moet as die 13de amptelike taal van Suid-Afrika ingestel word.
  • Die regering moet die datum van grondeise, wat vanaf 1913 strek, skrap omdat die Khoisan al voor daardie tyd grond besit het.
  • Die term “kleurling” moet heeltemal geskrap word en moet in plaas daarvan “Afrikaner” wees.

Langs die pad gaan SA-hulle met mense van die dorpies praat oor hul erfenis en identiteit.

“Die destydse apartheidsregering het die term ‘kleurling’ in 1991 geskrap – hoekom herhaal die nuwe regering dit? Ons wil hê ‘kleurlingmense’ moet weet dat dié term op hulle afgedwing is en dat dit tyd is om daarvan af te sien. Ons wil ‘kleurlinge’ nie dwing om die term te laat vaar nie, maar wil hulle opvoed sodat hulle ’n ingeligte keuse kan maak. Ons weet wie óns is – ons is nie coloured nie.”

SA het bygevoeg hoewel die Khoisan gemaak is om lang afstande te loop, gaan hierdie een ’n uitdaging wees vir hul voete op die harde teerpad.

“Ons vra die mense langs die pad om hul harte oop te maak vir ons en te help met donasies en verblyf soos ons van stad tot stad gaan.”

  • Diegene wat wil bydra, kan Régine bel of whatsapp by 079 057 0276.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters