10 dae gelede
Dwaalkoeël tref kind

NÓG ’n kind is ernstig gewond in die gang war wat woed in die Baai se Northerns.

Dié keer is dit ’n vyfjarige seuntjie van Gelvandale.

Sondag omstreeks 17:30 het twee skieters twee slag­offers in Terblanchestraat getref.

Volgens kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het ’n 35-jarige man in Terblanchestraat gesit. Die vyfjarige was nie ver van hom af nie.

Naidu sê: “Twee mans het nader gekom en op die 35-jarige man begin skiet. Hy is in die onderlyf getref en ’n dwaalkoeël het die kind in die maag getref.”

Sy sê die skieters het toe in ’n wit Hyundai-voertuig weggery.

Die polisie ondersoek twee sake van poging tot moord.

Albei slagoffers sterk in die hospitaal aan.

Die seuntjie wat raak geskiet is, is Mariano Kettledas.

Hy het volgens bure geloop van die winkel wat net om die draai is.

Sy suster, Margo (16), sê sy was die middag in die jaart toe sy die skote hoor klap. Margo sê minstens nege skote is gevuur.

“Ek het toe uitgehardloop om vir Mariano te kry. Dis toe dat ek sien hy staan buite by die hek.

“Hy was koel en kalm. Toe ek hom optel, sien ek ’n derm uithang.”

’n Vriend het hom en sy ma, Melanie (42), hospitaal toe gevat.

Die dokters het Sondagaand ’n noodoperasie uitgevoer om die koeël te verwyder wat tussen sy maag en rugstring vasgesit het.

Hy lê nou in die ICU.

Die man wat raak geskiet is, is Marquin Fillis (35).

Marquin het ’n paar jaar gelede in ’n voorval in dieselfde omgewing sy been verloor toe dit raak geskiet is.

Sy broer, James Fillis (38), sê hy was besig om movies te kyk terwyl Marquin buite die huis gewag het vir iemand wat vir hom kleingeld moes bring.

James vertel: “Dit was so vinnig. Hy het nog by die huis ingeloop en gesê: ‘Ma, my eiers (waar hy raak geskiet is).’

Skok

“Ons het iemand gekry en hom dadelik hospitaal toe gevat. Die dokters het die bullet verwyder.”

Marquin-hulle se ma, Elizabeth (60), sê sy recover nog van die skok ná haar ander seun se dood.

Dis nadat Ricardo Fillis in Oktober 2015 in sy kar in Highfieldweg in Schauderville doodgeskiet is.

Elizabeth, wat steeds bewerig is, vertel: “Ons is nie bang nie, maar die environment pla ons, want ons weet nie wanneer hulle gaan skiet nie.”

Roekeloosheid

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Liziwe Ntshinga, het onmiddellik ná die voorval ’n aktiveringsplan vir 72 uur in werking gestel om die skieters op te spoor.

Ntshinga sê: “Ons sal nie die roekeloosheid van dié misdadigers duld nie. Ons sal operasionele strategieë in werking stel.

“Ons kan nie toelaat dat onskuldige kinders slagoffers word nie. Daarom vra ek die inwoners om die misdadigers nie te beskerm nie, maar hulle te expose.”

  • Enige iemand met inligting oor die skietvoorval word gevra om kol. Mike Grobler van die anti-gang unit te bel by 082 442 1825.

Die Gelvandale-polisie se nommer is 041 402 2018.

Alle inligting is streng vertroulik en piempers mag anoniem bly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters