8 dae gelede
Duisende liter drank in drein af
drank
Duisende liter drank is tydens die geleentheid uitgegooi.  ~ Foto Verskaf / SAPD

DIE polisie in Mthatha het van duisende liter drank ontslae geraak om die jaarlikse Safer Festive Season-program bekend te stel.

Weziwe Tikana-Gxothiwe, Oos-Kaapse LUR vir vervoer, veiligheid en skakeling, het by lt. genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiekommissaris, aangesluit om 1 887 052 ml drank uit te gooi waarop daar tydens laas jaar se operasies beslag gelê is.

Tikana-Gxothiwe het gesê dit moet nie gesien word as 'n standpunt teen drank nie.

"Dit is 'n standpunt teen alkoholmisbruik en sy bydrae tot misdaad en ongelukke. Ons is nie hier om alkohol vir alle maatskaplike euwels te blameer nie,” het sy gesê.

Bheki Cele, minister van polisie, het juis verlede Vrydag tydens die bekendstelling van die misdaadstatistieke vir die tweede kwartaal gepraat oor die impak van drank.

Volgens Cele het drank tot honderde moordsake, 179 pogings tot moorde, 829 ernstige aanrandingsake en 747 verkragtingsake bygedra.

"Meer as 'n duisend voorvalle van moord, poging tot moord, verkragting en aanranding het in of buite drankwinkels, bars, taverns, shebeens en nagklubs plaasgevind. Hierdie syfers maak dit onmoontlik om die werklike gevolge van alkoholmisbruik te ontken,” het Cele gesê.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters