5 dae gelede
Droewige dag
Wyle Luhaven PotgieterFoto verskaf  ~ 

GELIEFDES, maats en familielede van Luhaven Potgieter (8) het Saterdag tot siens gesê.

Woensdag 31 Julie is Luhaven in ’n fratsongeluk by sy skool dood toe hy en sy maats by speelgoed-tonnels van sement gespeel het.

Dit was tweede pouse by die Primêre Skool Astra in die Baaise noordelike gebiede.

Die tonnel het oor hom gerol en hy is ernstig beseer.

’n Onderwyser het hom in ’n klaskamer ingedra.

Paramedici was gou op die toneel, maar hulle kon niks meer vir hom doen nie en het hom dood verklaar.

Die polisie het ’n geregte­like doodsondersoek begin.

Luhaven se ouers, Roelof en June Potgieter, is nou nog geskok.

Hulle het bewoë in die United Congregational Church oorkant die laerskool hulde aan hulle seun gebring.

June was oorweldig en moes uit die kerk uitgedra word toe sy flou geword het.

Luhaven was lid van die kerk se brigade. Dié het buite die kerk marsjeer – hierdie keer sonder hom.

Die plan was eintlik om van Luhaven se huis in Timothy Valley na die kerk te marsjeer, maar die gangsters het te veel onder mekaar baklei.

Die kinders het om veiligheidsredes nie daar marsjeer nie.

In die kerk, op ’n tafel naby die kis, het Luhaven se gunsteling-speelgoedkarretjies gestaan.

Hy was geken as ’n baie energieke seuntjie wat baie gehou het van speel en talle maatjies gehad het.

Roelof is egter ontevrede oor die gehalte van die begrafnis, wat deur die departement van onderwys in die Oos-Kaap betaal is.

“Ek het ’n kwotasie van R17 000 gekry, wat ’n grafsteen en vervoer insluit. Maar die skool het dit verander en ’n ander ondernemer gekry.

Ontevrede

“Nou lê Luhaven nie in die Bethelsdorp-begraafplaas nie, maar in Jacksonville. Hy kry ook nie ’n grafsteen nie, net ’n kruis.

“Ek is baie ontevrede, want die skoolhoof het gesê die departement het nie die budget daarvoor nie,” sê Roelof.

June kon steeds nie met Son praat nie.

Franklin Potgieter, haar broer, sê hulle is besig om die verlies te verwerk.

“Luhaven was ’n goeie seun en het baie van sy karretjies gehou. Ons gaan hom mis, veral hoe hy altyd geroep het en rondgehardloop het om die huis,” vertel Franklin.

Roelof meen die skool was nalatig en dat iemand toesig moes gehou het toe die ongeluk plaasgevind het.

“Ek stuur my kind skool toe en hy kom op sy rug terug. Ek oorweeg dit sterk om stappe te doen teen die skool en die onderwysdepartement,” sê Roelof.

Luhaven laat sy ouers, sibbes, grootouers en ’n groot familiekring agter. 

herinneringe: Op ’n tafel in die kerk het Luhaven Potgieter se gunsteling-speelgoedkarretjies gestaan.
draers: Geliefdes neem Luhaven Potgieter se kis in die kerk in.
ter ere: Luhaven Potgieter was lid van sy kerk se brigade.
verlies: Meraldene Adams (regs), ’n familielid, troos June Potgieter, Luhaven se ma.Foto’s: deon ferreira
tot siens, seun: Roelof Potgieter (middel), Luhaven se pa, is emosioneel.
Hulde: Die United Congregational Church in Laurence Erasmus-rylaan was Saterdag vol rouklaers.
Wyle Luhaven PotgieterFoto verskaf
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters