15 dae gelede
Drie cops help babatjie vang
DIE MANNE: Konst. Luwando Tsiu, AO Rian Tesnar en sers. Tebogo Makombe het kalm gebly toe hulle ’n vrou moes help lewe skenk.  ~ Foto Verskaf

HULLE het kalm gebly en ’n swanger mamma van die Northerns gehelp om haar baba in die lewe te bring.

En dít, sê kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, bewys weereens dat al is polisiebeamptes se hoofdoel om misdaad te voorkom en die publiek se veiligheid te verseker, daar gereeld van beamptes verwag word om take te verrig wat hulle nooit gedink het van hulle verwag sou word nie.

Dringend

Dít is presies wat Sondag gebeur het toe drie lede van Bethelsdorp se misdaadvoorkomingseenheid, AO Rian Tesnar, sers. Tebogo Makombe en konst. Luwando Tsiu, om 18:50 deur twee frantic vroue in die Greenfields- informele nedersetting genader is.

“Hulle is in kennis gestel van ’n swanger vrou wat besig was om die lewe te skenk en dringend hulp nodig het,” sê Naidu.

“Toe die polisie by die huis kom, is die baba reeds gebore, maar die naelstring was nog vas aan die babaseuntjie.

“Tesnar het dadelik gehelp om die naelstring te knip, terwyl sy kollegas hulle gehaas het om ’n verpleegster wat in die omgewing was, te gaan haal.

“Daarna het hulle gehelp om ’n ambulans tot by die huis te escort.”

Toe die mediese hulp by die huis gekom het, het die baba reeds lekker hard gehuil. Die 28-jarige ma en baba is toe na die hospitaal geneem.

Genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mountweg-polisiekluster, was vol lof vir die beamptes se optrede.

“ ’n Polisielid moet bereid wees om enige situasie te embrace, selfs al is dit een wat nie regtig van hom verwag word nie.

Kind

“Wanneer die gemeenskap na ons manne en vroue in blou draai vir hulp, word daar van hulle verwag om ’n diens te lewer.

“Dié beamptes het hulle koel en kalm gehou en gehelp om ’n pragtige kind die wêreld in te help. Geluk weer met ’n job well done.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters