2 maande gelede
Down en out nuwe jaar in
rubble: Loraine Jackson, Liam Francis, Chandré Jackson en Leborah Francis se huis is op Kersdag in puin gelê.  ~ 

TERWYL skoolkinders opgewonde regmaak om met die nuwe skooljaar te begin, sit sommige nog sonder skoolklere en/of -boeke.

’n Klomp kinders het in die feestyd al hulle nuwe skoolklere en skryfbehoeftes weens afsonderlike verwoestende brande in die Baai verloor.

Maar danksy ’n groep barmhartige Samaritane van die Northerns kan die mense wie se huise afgebrand het, nou ’n bietjie moed skep.

Noeleen Moodley van Bethelsdorp, Sektor 2, se gemeenskapspolisiëringsforum en ander het besluit om bystand te verleen.

vernietig: ’n Klein gesin is dakloos ná ’n brand by hulle huis in Honeybrook Crescent in Uitbreiding 24, Bethelsdorp.

Vir dié doel het Moodley-hulle die WhatsApp-groep “Helping Others” gestig.

Op die groep word donasies vir die ouers en kinders aangevra.

Die donasies is vir skoolklere, skryfbehoeftes en huisraad wat vernietig is.

Mense het in die Desembervakansie alles verloor in brande wat uitgebreek het in onderskeidelik Lundall Crescent in Rocky Ridge, Didlofftstraat in Bloemendal, Grootboomstraat in Arcadia en ’n huis in Helenvale.

Moodley sê hoewel hulle nog wag op skoolklere, beloof hulle die kinders sal môre met die begin van die nuwe skooljaar in hul volle skool-gear geklee wees.

Sondag het nog ’n brand uitgebreek.

SAK EN AS: Gwen Bebbie, Rudy Nero en hul kind, Buron Bebbie, het alles verloor.

’n Shack in Kliprand het in die slag gebly en ’n gesin dakloos gelaat.

Die inwoners vermoed die shack het vlam gevat as gevolg van onwettige elektriese kabels.

Op Kersdag het twee huise in afsonderlike voorvalle gebrand.

Een daarvan was die woning in Didlofft­straat.

Dié gesin het aan Son vertel dat die brand by die dak ontstaan het.

Nie net sit die kinders van die huis sonder skoolklere nie, die gesin moet ook van iewers geld bymekaarskraap om hul familiehuis te herstel.

Op dieselfde dag is ’n deel van ’n huis in Honeybrook Crescent in Uitbreiding 24 afgebrand. Die gesin van drie het al hulle meubels, klere en ander besittings verloor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters